Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Maandag voor 09:00 by Weskoppies psigiatriese hospitaal in Pretoria aangemeld, het die SAUK berig.
Daar was streng sekuriteit by die fasiliteit en talle verslaggewers het voor die hospitaal bymekaargekom.
Die Pretoriase hooggeregshof het verlede week beslis dat Pistorius as buite-pasiënt deur vier spesialiste geëvalueer moet word. Drie psigiaters en een kliniese sielkundige sal die atleet evalueer om te bepaal of sy algemene angsversteuring en gestremdheid enige invloed gehad het toe hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het.
Pistorius moet elke weeksdag om 09:00 by die hospitaal aanmeld en die evaluering sal nie langer as 30 dae duur nie, het regter Thokozile Masipa bepaal.
Sy hofsaak is tot 30 Junie uitgestel.
Die bevel is aan die staat toegestaan nadat forensiese psigiater, Merryll Vorster, aan die hof getuig het dat Pistorius aan ʼn algemene angsversteuring ly. Algemene angsversteuring behels chroniese kommer, spanning en senuweeagtigheid. -SAPA
Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.