Oscar Pistorius-moordverhoor: Foto’s en vuurwapens

June Steenkamp, Reeva se ma, reageer op misdaadfoto's in die hof. Dit is die tweede keer dat sy die hofverrigtinge bywoon Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

June Steenkamp, Reeva se ma, reageer op misdaadfoto’s in die hof. Dit is die tweede keer dat sy die hofverrigtinge bywoon Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Foto’s van die toneel by Oscar Pistorius se huis nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het, is Maandag in die hof onder die soeklig geplaas.

Adjudant-offisier Barend van Staden van die polisie het erken dat hy onder andere patroondoppies, ʼn bebloede krieketkolf en ʼn bebloede handdoek moes skuif om foto’s van ander bewysstukke te neem.

Van Staden sê hy het die eerste groep foto’s op 14 Februarie by die huis by Silver Woods-landgoed geneem.

Hy moes ook ʼn duvet oopvou om bloedspatsels daarop af te neem.

Daar was ook foto’s van lere in die erf naby aan die venster van die sitkamer op die onderste verdieping van die huis. Een van die vensters was glo gebreek, maar daar was nie glasstukke op die toneel nie.

Van Staden het 15 albums van die toneel saamgestel. Hy is al 12 jaar lank lid van die fotografie-afdeling en is al 21 jaar lank werksaam by die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandagoggend gehoor dat Pistorius ses vuurwapens van ʼn handelaar bestel het, maar hy het die bestelling ʼn maand ná Steenkamp se afsterwe gekanselleer.

Sean Rens, ʼn vuurwapenhandelaar, het aan die hof gesê Pistorius is lief vir vuurwapens en is entoesiasties daaroor. Hy het die atleet in Mei 2012 ontmoet en het ʼn Smith and Wesson 500-rewolwer aan hom verkoop. Pistorius het in daardie stadium slegs ʼn 9mm-pistool besit.

Pistorius het in die daaropvolgende maande ʼn hele paar vuurwapens by Rens aangekoop. Die vuurwapenhandelaar het getuig hy het seker gemaak dat Pistorius ʼn lisensie en bekwaamheidskaart besit. Hy het ook boek gehou van Pistorius se oefensessies.

Rens het bevestig dat Pistorius ʼn bekwaamheidsvraestel korrek beantwoord het. Dié toets stel sekere vrae aan die voornemende kandidaat wat verband hou met ʼn misdaadtoneel by ʼn huis. Pistorius het al die vrae korrek beantwoord.

Pistorius het die volgende vuurwapens bestel, maar nooit ontvang nie, aangesien die transaksie gekanselleer is:
– ʼn LM6-aanvalsgeweer, ʼn burgerlike weergawe van die vuurwapen wat deur die Suid-Afrikaanse polisie en weermag gebruik word;
– ʼn Winchester-haelgeweer;
– ʼn Mossberg Maverick-haelgeweer;
– ʼn Smith and Wesson-rewolwer .38, die kleinste rewolwer in teenstelling met die grootste, naamlik ʼn Smith and Wesson 500;
– ʼn Mossberg-semi-outomatiese haelgeweer wat self herlaai; en
– nog ʼn geweer wat self herlaai.

Pistorius pleit onskuldig op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy staar ook aanklagte wat met die oortreding van die Vuurwapenwet verband hou, in die gesig. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

charmaine coetzee ·

Ai dit is so hartseer ek bid dat GOD byde families sal onderskraag en berusting en vergifnis sal kry JESUS hou beide famielies styf vas in SY hand en omvou hulle met sy bloed

Theresia ·

Lees die regter ooit wat die publiek se mening ook is omtrent die Oscar saak.
Besef sy dat Barry Roux R50 000 per dag betaal word om Oscar te se onskuld te probeer bewys. Wat ‘n lekker manier om baie gou baie geld te maak.
Een ding wat ek nie kan klein kry nie is die oop venster wat voor die toe badkamer was as daar wel ‘ n inbreker was soos wat Oscar vermoed het, wat sou die inbreker i n die toe geslote badkamer gedoen het. Ek wens iemand kan dit inder die regter se aandag bring.

Laetitia Nel ·

Ai Oscar ek voel jammer vir almal in die tragedie. Maar jy is ons Golden Boy. Hou nou op om soos ‘n “boks” op te tree. Gaan vir ‘n ” lie detector test” AS dit werklik ‘n ongeluk was. Dan kan jy mos weer jouself in ere herstel en Reeva se arme moeder kan weer rustig slaap. Komaan wees die man wat ons ken en die held wat ons altyd opgehemel het !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.