Oud-Eskom-werkers, kenners begin met werk by kragstasies

Kgosientso Ramokgopa (Foto: Ihsaan HAFFEJEE / AFP)

Kgosientsho Ramokgopa, minister in die presidensie verantwoordelik vir elektrisiteit, het Vrydag aangekondig dat tegniese kenners van Maandag af by verskeie kragstasies landswyd ontplooi sal word.

Hy het gesê die span sal die vier kragstasies besoek waar die energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) baie laag is. Dit sluit Matla-, Kriel-, Majuba- en Kendal-kragstasies in.

Die kenners sal ook hul ondersteuning en oplossings aanbied met oopsiklus-gasturbines, veral wat betref uitdagings rondom logistiek en berging .

Die span kenners word ondersteun deur die Hulpbronnemobiliseringsfonds (RMF) wat in Maart vanjaar bekendgestel is. Dié fonds het reeds R100 miljoen ingesamel van ondernemings en filantrope.

Die fondse het ten doel om tegniese ondersteuning en kapasiteit te verskaf aan die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom) en van die beste kundigheid gebruik te maak om ʼn einde te bring aan beurtkrag.

Hierdie kenners, volgens die minister, sluit in voormalige Eskom-personeel en bedryfskenners.

Ramokgopa het gesê die persone, wat sterk aanbeveel word, sal aangewend word volgens hul spesialiteite.

Wat betref aanvraagbestuur is hy vol vertroue dat die program oorvolskrewe sal wees.

“Onthou, ons het gesê daar is enorme kragopwekkingsvermoë uit die aanvraagkant, deur die megawatts terug te kry op die aanvraagkant sonder dat huishoudings se vermoë – om aan hul daaglikse vereiste te voldoen – ontwrig word. Dit gaan oor hoe slim ons te werk gaan met energie-oplossings.”

Hy het bygevoeg hy is verheug om aan te dui dat Eskom die vereiste vir sekuriteitsdeposito’s laat vaar het, sodat elektrisiteit aan munisipaliteite, wat nie agterstallige skuld het nie, verskaf kan word.

“Ons dink dit sal ʼn beduidende verbetering bied op kragopwekking, want dit was ʼn groot struikelblok.”

Die minister het ook aangekondig dat twee bykomende waterstofprojekte deur die Risk Mitigation Independent Power Programme deur die raad van Eskom goedgekeur is. Hy glo dié projek sal teen die einde van Junie vanjaar afgehandel wees. Dié projek, aldus die minister, sal ʼn bykomende 274 MW tot die kragnetwerk bydra.

Voorbereidings word ook getref om ʼn bykomende aanbiedingsvenster beskikbaar te maak.

“Ons kyk na bykomende aansoekperiodes in Junie en Julie 2023 en dit sluit in Big Window 7 vir wind en sonkrag.”

Hy benadruk die regering se toewyding tot die ontkolingsagenda en tussen dié aansoekperiodes sal Eskom graag ongeveer 5 000 MW wil bekom.

“Ons moet seker maak dat die vooruitsigte van hierdie projekte geografies in gebiede geleë is wat toegang het tot kragnetwerkkapasiteit.”

Hy het verslaggewers daaraan herinner dat die groot tekortkominge van die vorige aanbiedingsvenster sowat 3 000 MW was. Dit is nie toegestaan nie, weens swak of geen toegang nie om kapasiteit te skep.

“Ons sal seker maak dat daar nie hierdie keer enige misstappe is nie.”

ʼn Verdere aanbiedingsvenster hou verband met vier batterystoorkragte van 1 200 MW en ʼn gasprojek van 3 000 MW.

Intussen is die versoek vir aanbiedings vir die beurtkragverminderingsprogram ongeveer 750 MW in die oorgrensaanskaffingsprogram van 1 000 MW, en sal uiteindelik saam meer as 10 000 MW bekom.

Wat betref die winterseisoen het Ramokgopa gesê die aanvraag is groter, maar die span by Eskom werk onverpoosd om laer fases beurtkrag in te stel.

Hy benadruk die kragvoorsiener is nie naby aan ʼn algehele ineenstorting nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.