Oud-vakadviseur skuldig aan verkragting van kind

Louis Pepping (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige vakadviseur van die Oos-Kaapse departement van onderwys is vandeesweek skuldig bevind aan die verkragting van ʼn sesjarige meisie.

Louis Pepping (58) het ná sy skuldigbevinding ongeërg voorgekom en ʼn middelvinger na die media gewys terwyl hy uit die hooggeregshof in Mthatha gestap het.

Die jong kind is in September 2019 gestuur om skyfies by ʼn spaza-winkel naby haar huis in Ngobozana te gaan koop. Sy het egter nie teruggekeer huis toe nie en haar sibbe is gevra om na haar te gaan soek toe dit begin donker raak.

Haar ouma het later ook na haar begin soek en haar eindelik in haar sibbe se sorg gevind. Die jong kind was egter aan die bewe en het bloed aan haar geslagsdele gehad.

Die jong kind het toe haar ouma en sommige lede van die gemeenskap na Pepping se huis gelei waar sy hom geïdentifiseer het as die persoon wat haar op straat gegryp en in sy kamer verkrag het.

ʼn Bloedbevlekte laken en die kind se DNS sou later in sy huis gevind word.

Ontstoke lede van die gemeenskap het Pepping te lyf gegaan voordat die plaaslike tradisionele leier hom te hulp gesnel en die polisie ontbied het.

Pepping is dadelik in hegtenis geneem en na ʼn hospitaal geneem vir beserings wat hy in die onderonsie opgedoen het. Die kind is self in ʼn hospitaal opgeneem om mediese behandeling te ontvang ná die verkragting.

Waarnemende regter Mvuzo Notyesi het nou bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Forensiese bewyse het deurgaans die staatsgetuies se weergawe van gebeure gestaaf.

Notyesi het Pepping se weergawe dat iemand anders destyds die kind na sy kamer gelok en haar daar verkrag het, as vergesog en onwaarskynlik bestempel.

  • Dié betrokke saak het destyds nasionale nuus gehaal en pres. Cyril Ramaphosa het selfs die kind ná die verkragting by haar huis in Ngobozana gaan besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die doodstraf is al wat werk vir sulke oortredinge.

Chris ·

Stem 100% saam. Daar is nie plek vir sulke mense in ons samelewing nie.

Wendy ·

Kan CR asb ook elke boer of familie in plaasanvalle besoek ??

Madz ·

September 2019….. dis Januarie 2023 – verduidelik net vir my hoe de HEL kan dit so lank vat om ‘n verkragter aan te kla as AL die bewysstukke & vingers kort na die verkragting alreeeds na hom gewys het??!! Hoeveel soortgelyke insidente het nie (dalk) al intussen plaasgevind nie??

Manie ·

Arrogante ellendeling, moet maar die middelvinger vir homself hou om ‘n gaatjie toe te stop wanneer “Pappa” van hom ‘n wyfie gaan maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.