Oudbokskampioen Sakkie Enslin sterf

Sakkie Enslin in die tagtigs. (Foto: Verskaf)

Isak “Sakkie” Enslin, ’n bekende ligswaargewigkampioen van die tagtigs, is Woensdag in die vroeë oggendure dood. Hy was 63 jaar oud.

Enslin het ten tyde van sy dood in Meyerton in die Vaaldriehoek gewoon.

Ricky Enslin, Sakkie se seun, het sy pa se dood vanmiddag aan Maroela Media bevestig.

Ricky vertel dat sy pa glo Maandagaand van ’n seer maag gekla het voordat hy aan die slaap geraak het. “Hy het net nie weer wakker geword nie.”

Die presiese oorsaak van sy dood is nog onbekend.

Sakkie het gedurende sy loopbaan as ligswaargewigbokser tussen 1980 en 1987 saam met onder andere Sakkie Horn, Thulani “Sugar Boy” Malinga en Freddie Rafferty in die kryt geklim.

Sakkie het altesaam 17 uit 24 gevegte gewen, vyf verloor en twee gevegte het gelykop geëindig.

Sakkie het ook gedurende daardie jare die Springbok-boksspan in Las Vegas in die VSA verteenwoordig.

Ricky sê sy pa se lewensverhaal klink soos ’n aksiefliek. Hy vertel dat sy pa in die laat tagtigs tronkstraf moes uitdien vir gewapende roof. In die laat negentigs is die voormalige bokskampioen tydens ’n sluipmoordaanval in Roodepoort 12 keer gesteek en sy motor is in ’n stadium in sy motorhuis met plofstof opgeblaas.

“Stories wat klink soos ’n aksiefliek, maar vol letsels wat dit regverdig,” onthou Ricky.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.