Oudkrieketspeler groet skoolhoof met helikopterrit

Die Boonzaiers saam met Boeta Dippenaar. (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige Protea-krieketspeler het verlede week sy laerskoolhoof vir oulaas verras met ʼn helikopterrit om Laerskool Newton in Kimberley, voordat dié geliefde hoof finaal die skool vaarwel toeroep.

Boeta Dippenaar (44), wat vanaf 1999 tot 2007 vir die Proteas uitgedraf het, het Vrydag die skoolhoof, Boon Boonzaier (62), op die sportterrein van dié skool opgelaai vir ʼn laaste blik oor die terrein voordat hy aftree.

Dippenaar, wat nou die uitvoerende hoof van Henley Air, asook die lugambulansdiens Rocket HEMS is, sê die rit is maar ʼn klein gebaar vir die groot rol en invloed wat Boonzaier – oftewel “Boontjie” soos baie mense hom ken – op soveel kinders en volwassenes se lewe gehad het.

“Daar is min onderwysers soos hy wat sy tyd vrygewig gee om vir kinders soveel moontlik geleenthede te bied. Hy het ongekende lewenservaring met ons gedeel, in die klaskamer én op die kolfblad,” sê Dippenaar.

“Hy het dissipline en broodnodige waardes as’t ware in my geboor en ek het nou nog soveel waardering daarvoor.”

Boonzaier het in 1985 by Laerskool Newton begin en was 24 jaar daarvan skoolhoof gewees. Sy vrou, Suzette Boonzaier (61), was al ʼn jaar voor hom daar en tree eindelik ook saam met hom af.

Ondanks Boontjie se verpligtinge as skoolhoof het hy tot die laaste dag krieket – waarvoor hy so lief is – afgerig. Hy het ook Afrikaans gegee.

“Ek wou so graag nog klasgee en sport afrig, want dit gaan dikwels verlore wanneer ʼn mens hoof word,” het Boonzaier aan Maroela Media vertel. “Maar dit is juis waaroor onderwys gaan, om skool te gee en kinders te vorm.”

(Foto: Verskaf)

Dié geliefde skoolhoof is verlede Vrydag op die sportterrein met ʼn erewag deur al die leerders en personeel van Newton gegroet. Hy het simbolies oor die kolf geloop en die krieketpaaltjies uit die grond gehaal.

Dippenaar het Boonzaier en sy vrou toe in die helikopter gelaai en ʼn draai om die skool gevlieg, terwyl leerders in die vorm van ʼn hart op die kolfblad gestaan het.

“Dit is ʼn genadegawe om so gegroet te word en te weet jy het iets goeds in iemand se lewe beteken,” sê Boonzaier.

“Dit was baie emosioneel, want mens het deel van die familie en gemeenskap geraak en ons het soveel goeie herinneringe van die skool. Ek het deur die loop van die jare klomp oudleerders aangestel om as onderwysers te werk en naderhand het ek ouers vir wie ek skool gegee het se kinders ook onderrig.”

Boonzaier sê hy gaan veral die kinders mis, asook die sport wat hy weekliks afgerig het, maar sien veral daarna uit om tyd saam met sy vrou en gesin deur te bring.

“Dit is goed om iets soos dié op ʼn hoogtepunt af te sluit. Die kinders was ongelooflik en ek sal nooit my tyd daar vergeet nie.”

Die skool het nou ʼn bankie ter herinnering van Boonzaier opgerig, waarop hy saam met sy vrou kan sit en krieket kyk.

Pedro Enslin, wat deel is van Newton se bestuurspan, sal as waarnemende hoof oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Dit is ‘n baie mooi en liefdevolle gebaar om op so ‘n wyse aan ‘n persoon wat so baie mense se lewens positief beïnvloed het afskeid te neem. Mag die res van sy reis gevul wees met liefde, voorspoed, gesondheid, vrede en vreugde.

Frikkels ·

Wat ñ onderskeiding! Mens kry bitter min onderwysers wat deesdae nog werklik in die wieg gelê en geroep is om ons kinders op te voed. MnrBoonzaaier se aftrede is vir seker ñ groot verlies vir die professie.

SjN ·

Wat n mooi gebaar aan almal betrokke, dit sal altyd onthou word.

JohanR ·

Nog een van die gooies. Jy moet weet as jy soe afskeid neem dat jy ‘n baie geliefdes was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.