Ouma glo voor kleinkind doodgeskiet

’n 42-jarige vrou is Saterdag in haar huis in Waterloo, KwaZulu-Natal, doodgeskiet. (Foto: Facebook / Rusa)

’n 42-jarige vrou is Saterdag glo ten aanskoue van haar tweejarige kleindogter in haar huis in Waterloo, KwaZulu-Natal, doodgeskiet.

Die private veiligheidsmaatskappy Reaction Unit South Africa (Rusa) is om 09:18 na die toneel in Gingerweg ontbied nadat verskeie mense klagte van geweerskote by Rusa aangemeld het.

“By [lede van die veiligheidsmaatskappy se] aankoms het die liggaam van ʼn vrou uitgestrek op die sitkamervloer gelê. Sy het noodlottige skietwonde aan haar kop en onderbuik opgedoen,” het Rusa in ʼn verklaring op sy Facebook-blad gesê.

“Haar kleindogter was ook ten tyde van die skietery in die sitkamer terwyl haar dogter (19) en seun (24) in ʼn ander vertrek was.”

Die vrou se dogter het aan reaksiebeamptes van Rusa gesê sy het gehoor hoe ʼn man haar ma gevra het waar haar kinders is. Sy het glo toe na die sitkamer gestap waar sy gesien het hoe die vermeende aanvaller ʼn vuurwapen op haar ma rig.

“Die slagoffer het geskree en vir haar dogter gesê om te vlug voordat die verdagte op haar losgebrand het.

“Die sibbe het ʼn venster in ʼn slaapkamer gebreek en daardeur ontsnap. Die 19-jarige vrou het in die proses ʼn diep snywond aan haar arm opgedoen.”

Die dogter beweer dat sy nie die vermeende aanvaller herken het nie.

Die tweejarige meisie is nie tydens die voorval beseer nie.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n moordsaak ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.