Pa van Namibië vas oor sy seun se moord

Argieffoto

ʼn 59-jarige man van Namibië is in Kuilsrivier in die Wes-Kaap in hegtenis geneem in verband met die moord op sy 12-jarige seun.

“Die verdagte en sy seun is op 30 November 2019 as vermis aangemeld,” het brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, gesê.

“As deel van die ondersoek na hul verdwyning is hul foto’s en ʼn beskrywing van die pa en seun versprei. Die polisie in Van Rhynsdorp, ʼn klein dorpie aan die Weskus, het die pa herken van die foto’s. Hy is aangekeer en na Kaapstad geneem.”

Die man het Saterdagmiddag aan polisiebeamptes bely dat hy sy seun vermoor het en hy het hulle gewys waar die seun begrawe is.

“Speurders, saam met ander misdaadtoneelkenners, het die seun se ontbinde liggaam Saterdagmiddag naby ʼn kanaal in Soneike, Kuilsrivier, uitgehaal.”

DNS-toetse sal binnekort gedoen word om te bepaal of die liggaam wel dié van die vermiste 12-jarige seun is.

Die pa sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.