Pandemie se ‘toegeeflike slaagsyfer’ pla

Weens die pandemie het die toegeeflikheid egter al hoe groter geword en die toetsinhoud al hoe kleiner. (Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Covid-19-pandemie het reuseontwrigting op ʼn ongekende skaal aan onderwys aangerig, met ʼn nuwe studie wat nou wys watter uitwerking dit op leerders se slaagsyfer gehad het. Die navorsers waarsku ook die meer toegeeflike benadering teenoor leerders, wat juis ingestel is om die uitwerking van die pandemie te versag, kan die integriteit van die matriekuitslae in die gedrang bring.

Die studie deur die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid (Resep) by die Universiteit Stellenbosch, wys dat die toegeeflike slaagvereistes in reaksie op die Covid-19-ontwrigting die getal herhalers in laer grade drasties laat afneem het; dit het ook massiewe toenames veroorsaak in die getal kandidate wat matriek slaag of met matriekvrystelling slaag.

Die departement van basiese onderwys het dié beleid spesifiek vir die 2020-skooljaar ingestel. Dit het onder meer behels dat slegs werk wat gedurende die verminderde klastyd hanteer is, getoets mag word. Eksamens is ook aan die einde van die jaar met gekontroleerde toetse vervang.

Die pandemie het gelei tot die lang sluiting van skole en roterende skoolbywoning wat groot leerverliese tot gevolg gehad het. Die meer toegeeflike assessering het boonop leerders se punte laat verbeter en die vloei van leerders deur die skoolstelsel versnel.

Die navorsers sê ook die groter toegeeflikheid was ʼn “logiese en geregverdigde” reaksie van die departement van basiese onderwys om leerders te akkommodeer.

“Die uitwerking van die meer toegeeflike assessering was sigbaar in baie laer herhalingskoerse in 2020 as in 2019, veral in die hoër grade, waar herhalingskoerse gewoonlik nogal hoog is,” lui die bevindings.

“Op nasionale vlak was 2021 se herhalingskoerse nog nie beskikbaar nie, maar die syfers van drie provinsies dui daarop dat daardie jaar se koerse omtrent halfpad tussen die 2019- en 2020-vlak was; dus steeds meer toegeeflik as in die verlede.”

Die gevolgtrekking van die studie lui: “Dit bevestig dat die pandemie-tydperk gelei het tot veel groter toegeeflikheid tydens assessering, soos die beleid van die departement van basiese onderwys se bedoeling was.”

Maar, waarsku die navorsers ook: “Gevolglik kan die Covid-19-pandemie ook die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die gevaar stel, gegewe dat veel meer leerders matriek geslaag en matriekvrystelling in 2020 en 2021 behaal het – ten spyte van die verlore onderrig- en leertyd.”

Inskrywingskoers

Die navorsing wys ook ʼn duidelike verandering in inskrywingspatrone by skole ná die Covid-19-pandemie, veral by hoërskole.

In Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap was daar ʼn daling in inskrywings vir gr. 8 en gr. 10, terwyl meer leerders as gewoonlik vir gr. 9, gr. 11 en gr. 12 ingeskryf het. Daar was veral groot stygings in inskrywings vir gr. 11 en gr. 12.

“Een van die gevolge van laer herhalingskoerse in gr. 10 is skynbaar dat minder leerders in 2021 vir gr. 10 ingeskryf het omdat hulle na gr. 11 bevorder is en inskrywings daar dus verhoog het.”

Die data wys dat die benadering wat voor die pandemie gevolg is – waar leerders dikwels in gr. 10 teruggehou is omdat skole hul matriekuitslae probeer beskerm – nou minder as vantevore toegepas is.

ʼn Ontleding van vorige jare se matriekuitslae wys dat veel meer leerders in 2021 die matriekeksamen afgelê het, as wat die geval voor die pandemie was.

Kleiner toetsinhoud

Vir leerders in gr. 10 en gr. 11 het die departement die skoolgebaseerde assesseringskomponent van 25% tot 60% verhoog. In die vierde kwartaal is die eksamen ook met gekontroleerde toetse vervang.

Die departement van onderwys het voorts opdrag gegee dat sulke toetse slegs werk moet toets wat in die klas behandel is en as die werk nie daar behandel is nie, kan nie getoets word nie.

Skoolgebaseerde assessering – leerders se punte uit klastoetse en opdragte – is nog selde ontleed, lui die navorsing.

Weens die pandemie het die toegeeflikheid egter al hoe groter geword en die toetsinhoud al hoe kleiner.

Navorsers sê in die Oos-Kaap was daar byvoorbeeld in die vierde kwartaal in die meeste van die provinsie se skole ʼn beduidende verbetering in uitslae (vir wiskunde, wiskundige geletterdheid en Engels eerste addisionele taal) in pandemie-jare wanneer dit met vorige jare vergelyk word.

“Hierdie groter toegeeflikheid het leerdervloei deur die grade versnel en druipsyfers in die hoër grade verlaag. Een uitwerking daarvan was ʼn 44%-styging in die getal matriekkandidate in slegs drie jaar,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.