Paramedici tydens kamma-noodoproep beroof

(Argieffoto)

Die Tshwane-nooddienste sê hy gaan nie huiwer om die veiligheid van sy personeel te prioritiseer as misdadigers aanhou om paramedici te teiken nie.

ʼn Span van die Tshwane-nooddienste is vanoggend omstreeks 02:00 by ʼn huis in Soshanguve van hul persoonlike besittings beroof nadat hulle met ʼn kamma-noodoproep daarheen gelok is, het Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, gesê.

“Die Tshwane-noodoproepsentrum het ʼn noodoproep gekry waarin hulp gevra is vir ʼn pasiënt wat sukkel om asem te kry. ʼn Ambulans is dadelik daarheen gestuur,” het hy gesê.

By hul aankoms by die adres was die huis donker en die hek toegesluit. “Hulle het die beheersentrum gekontak en gevra dat die persoon wat die oproep gemaak het, van hul aankoms in kennis gestel word. Terwyl een van die bemanningslede op die foon met die oproepsentrum gepraat het, het ʼn onbekende man aan die ambulans se venster geklop en gesê hy het hulp ontbied,” het Mabaso gesê.

Hy het daarna ʼn vuurwapen uitgepluk en deur die oop venster hul selfone geëis. Die paramedici het hul fone oorhandig en is beveel om weg te jaag.

Hulle het toevallig ʼn ambulans van die Gautengse Provinsiale nooddienste opgemerk en gehoor dat dié ambulans na dieselfde adres ontbied is.

“ʼn Saak van gewapende roof is by die Puthanong-polisiestasie aanhangig gemaak.”

Die nooddienste het die voorval ten sterkste veroordeel. “Nooddienswerkers is toegewyd tot die versorging, behandeling en vervoer van siek of beseerde mense – sonder vooroordeel. Enige aanval op bemanning en misdadigheid of wreedheid teenoor hulle moet beskou word as ʼn ernstige aanval op ʼn diens wat lewens red. Dit moet deur almal in die samelewing verwerp word,” het Mabaso gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos de Meyer ·

Dis ons nuwe Suid-Afrika. Hulle ontsien nie eers die paramediese personeel nie. Een van twee oplossings, bewapen hulle, nog makliker stuur maar gewapende reaksie saam. Dinge word nou te erg.

Melanie ·

Dit klink ongelooflik! ‘n Ambulans word ontbied om iemand se lewe te gaan red, maar hulle moet vuurwapens saamdra om voorbereid te wees vir ‘n skietery.

Michael P ·

Waar kom die boosheid vandaan?????? Hier is baie siek mense in ons land. ( LEADERS)

Hans ·

Ons regering vertroetel kriminele dit is hoekom dit so gaan.

Danny ·

….dalk weer die groep in Binnelanders wat toegeslaan het…?????????????

jakes ·

Volgende sal waarskynlik begrafnisondernemers wees wat uitgeroep word om n lyk te kom haal dan word hulle beroof. Hierdie drek se siek optredes ken geen perke nie.

Maljan ·

Ambulans is dadelik uitgestuur Soshanguve toe. Maar vir n ambulans om in Erasmia uit te kom, moet jy blykbaar wag vir een met n aansluiting op mars!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.