Parlement se eerste volle sitting volgende week

Argieffoto

Die parlement se eerste volle virtuele sitting met alle lede van die Nasionale Vergadering bymekaar word tans vir volgende Woensdag, 27 Mei, beplan. Die datum kan nog verander, maar nie veel nie.

Die Nasionale Vergadering se reëlskomitee het Dinsdagoggend in ’n soms vurige vergadering waarin die ANC en DA by tye lelik vir mekaar gegrom het, die meeste van die reëls vir ’n virtuele sitting van die volle Nasionale Vergadering uitgesorteer.

Die reëls oor kworums en oor hoeveel stemme nodig is vir bindende besluite bly van krag, asook die ordereëlings, die tydindeling en die reëlings oor kennisgewing vir sittings.

Die grootste verskil met hoe dinge sedert 1994 gedoen gaan word, is uiteraard dat almal nie in dieselfde lokaal sal wees nie, maar verspreid oor die land, en dat die sitting virtueel sal wees met LP’s sigbaar en deelnemend op rekenaarskerms en groot skerms wat in die Nasionale Vergadering in Kaapstad aangebring sal word.

Juridies sal alle deelnemers geag word om in Kaapstad te wees, al neem hulle ook van waar in die land deel. Dit voldoen aan grondwetlike vereistes en vestig ook Kaapstad as jurisdiksie vir enige hofsake oor parlementêre kwessies.

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Sprekerslyste sal deur die partyswepe gefinaliseer word en punte van orde sal deur die voorsittende beamptes gehandhaaf word. Uit die aard van die digitale platform sal dit deurgaans duidelik wees wie hulle wangedra.

As ’n LP te luidrugtig is, kan die voorsittende beampte (byvoorbeeld die speaker) die persoon digitaal stilmaak (mute). As die LP steeds ontwrigtend optree, kan hulle uit die vergadering na die portaal se wagkamer verban word.

Stemmery is ’n bietjie van ’n probleem, want daar is nog nie spoedige en  intydse stemprogramme nie, so vir die afskop gaan die swepe met die tellery vertrou word, met die portaal wat sal bepaal wie presies teenwoordig is en dus mag stem.

Die publiek en die media sal die sitting op YouTube kan volg, wat deursigtigheid verseker en ontwrigting bykans onmoontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Loompa ·

Wat vir my vreeslik opvallend is:
Hulle wil aangaan met visual Parlament sittings maar ons kinders moet terug keer skool toe.
Hoeveel besigheids lyne is nogsteeds op Lockdown maar skole moet open.

Parlament is bang om in 1 gebou saam te sit maar ons kinders mag skooltoe terug keer.

Is ons kinders se lewens nou die proef sessie oefening?

Fedup ·

They don’t care Alta. We won’t be sending our kids to school the rest if this year. I know a lot of parents don’t have that option. We will not take chances with our kids.

Wondermaarnet ·

Sitting of slaapsessie? Meerderheid is so verveeld hulle kan nie wakker bly nie en word ‘n astronomiese salaris betaal om te slaap.

Martie ·

Ek stel gladnie belang in wanneer hulle saam gaan sit nie want hulle verrig elk geval niks positiefs nie. Gee vir ons positiewe nuus wat ons kan glo en nie julle speletjies nie

Pieter ·

En ons betaal hulle om te sit en twak praat. Niks wat die klomp doen maak sin nie. Ons slim menister van onderwys wil nou na 25 jaar kom worrie oor water en toilets by skole. Wat het die ANC dan gedoen in 25jaar behalwe om die staats koffers te plunder. Dit is nou een ding wat die menisters baie goed kan doen

Mariana ·

‘n Virtuele sirkus. As daar net besluite geneem kan word oor die mense van hierdie land, maar dit is het politiek want een wil beter en sterker wees en die met die hef in die hand kan geen regte besluite maak nie. Die land val elke dag net meer en meer uitmekaar en die virus se teenwoordigheid sal nog lank gesien en gevoel word. Laat als terugkeer na normaal selfs parlement dat ons lewens kan aangaan. Almal weet teen die tyd van die gevare en hoe jy jouself kan beveilig, dus laat lewe aangaan. Maar die wat daardie besluit moet neem is eers nou nog lus vir magsmisbruik. Ewige powerhungry spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.