Parlement takel omstrede Wetsontwerp op Kopiereg

Foto ter illustrasie/Maroela Media

Die parlement het die moeisame taak begin om die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg te hersien.

Dit is ʼn belangrike en ingewikkelde taak wat inkomste en geregtigheid vir uitgebuite kunstenaars kan beteken as dit reg uitwerk, maar tot Amerikaanse ekonomiese stappe teen Suid-Afrika kan lei as dit verkeerd uitwerk.

Die kopiereg-kwessie sluimer al lank, maar het so 15 jaar gelede opnuut opgevlam toe die kwessie dat die groot treffer “The Lion Sleeps Tonight” eintlik ʼn Zoeloeliedjie is (maar bitter min indien enige uitbetalings ooit aan Zoeloes gemaak is) en die armoedige sterwensituasie van Margaret Singana (bekend om haar deelname aan die groep Joy van “Paradise Road”-faam asook die musiekblyspel Ipi Tombi) belig is.

Daarna is ʼn proses van stapel gestuur om kopieregwette en bepalings oor kunstenaarsinkomste te hersien, wat op die huidige wetsontwerp uitgeloop het.

Die wetsontwerp is deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar, met die teenstem van die DA, EFF, VF Plus en ACDP.

Sedertdien het ernstige teenstand teen die wetsontwerp toegeneem van onder meer die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf, maar ook die Amerikaanse regering, met die Trump-bewind wat dreig om Suid-Afrika se handelstatus betreffend die VSA in haas alle bedrywe af te gradeer as pres. Cyril Ramaphosa die wetsontwerp sou teken en dit so op die wetboek plaas.

Nou het Ramaphosa die wetsontwerp teruggestuur na die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid op grond van verskeie besware, waaronder retrospektiewe wegneem van eiendomsreg en te veel mag vir die minister.

Die portefeuljekomitee het dus hierdie week met sy werk begin – ʼn proses wat met ʼn arendsoog dopgehou sal word deur kunstenaars, ekonome en sakelui aan ʼn wye front.

Die VF Plus-LP Jaco Mulder het gemaan dat die parlement kopiereg behoort te beoordeel teen die agtergrond van tegnologiese ontwikkeling wat onafwendbaar die land se ekonomie op ʼn kreatiewe wyse beïnvloed.

“Die wet behoort diegene te beskerm wat produkte skep, diegene wat daarin belê, diegene wat dit versprei, diegene wat dit verkoop en diegene wat dit koop, en die terugverwysing van die wetsontwerp bied ʼn geleentheid om die gebreke reg te stel,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Kyk nou net wat word voorgehou as rede om die baba èn sy eendjie saam met die badwater uit te gooi. Afrika is gelukkig tog weereens verontreg en daarom moet ons die baas oor alles word. Onthou plagiaat is net sekere mense se reg!

Veens ·

Kan al sien hoe draai die rook as die breinselle eers ingespan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.