Pas op vir opportunistiese diewe in Centurion

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Inwoners van Centurion moet paraat wees vir opportunistiese diewe wat op grensmure en dakke loop en enigiets steel wat maklik bereikbaar is.

Dié waarskuwing kom van die Fidelity Groep nadat al meer voorvalle van dié soort misdaad – wat gewoonlik op geringe diefstal uitloop – by Fidelity aangemeld is.

Dit blyk dat voorvalle veral in die Highveld-, Rooihuiskraal- en Wierdapark-woonbuurte en omliggende gebiede toegeneem het.

“Ons het verskeie klagtes ontvang van diewe wat veral tussen 22:00 en 02:00 oor mure spring, op grensmure en afdakke loop en enigiets steel waarop hulle hul hande kan lê,” het Charnel Hattingh, groephoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity, gesê.

“Dis hoofsaaklik geringe diefstal, waar diewe hul hande deur oop vensters steek en goedere soos elektroniese toestelle steel wat hulle kan verkoop.”

Sy sê die beste verweer teen dié soort misdaad is om jou eiendom so “onaantreklik as moontlik” vir diewe te maak deur voorsorgmaatreëls te tref om jou besittings veilig en binne die huis te hou.

“Die buiteheinings van jou eiendom is waarskynlik die belangrikste veiligheidsversperring waaroor jy bekommerd moet wees.

“Dis ’n indringer se eerste toegangspunt, jy moet dus seker maak jou eiendom is beveilig. Versperrings soos hakiesdraad kan byvoorbeeld aangebring word. Hou jou veiligheidshekke te alle tye gesluit en maak seker die sleutels is nie in die hekke nie. Aktiveer vroeë waarskuwingstelsels soos elektriese omheinings en maak seker dit is aan gewapende reaksiemaatskappye gekoppel.”

Hattingh sê dit is verder belangrik om te verseker dat hekmotors doeltreffend beveilig en toegesluit is, en dat alle alarmstelsels goed werk.

Die hele familie moet bewus wees van veiligheidsplanne en weet waar paniekknoppies geleë is.

Hattingh meen deur klein dingetjies te verander wat jou huis kwesbaar laat, kan op die ou end ’n groot verskil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

TruthDealer ·

Net Centurion? Gaan dit nie maar orals so, in hierdie hool nie?

Samuel ·

Daar is geen uitsondering nie. Oral in die land word oor mure gespring en is opportunistiese diefstal aan die orde van die dag.

Republikein in die Wes Kaap ·

En Rampphosa en sy bende slaap rustig.

Hendrik ·

Dit is so lekker om nog in die ou Suid-Afrika te bly met krag, water en veiligheid. Lyk my ek het 14 jaar gelede die regte besluit gemaak om na my eie gemeenskap te trek. Oos trek is goed terwyl almal wes wil trek of uit SA wil trek. ‘n Mens moet maar saam jou keuse lewe.

Martie Smartie ·

Hier in Brooklyn waar ek bly gaan dit erger. Ek weet van 3 diefstelle en 2 inbrake in ‘n omtrek van 3 straatblokke hier by my wat die laaste 2 weke plaasgevind het. Net die ambassades is veilig lyk my

Elmarie ·

Dit is nie net sekere uitbreidings van Centurion nie, die HELE Centurion loop deur. Straat ligte wat al vir maande af is, help nie die inwoners nie.

Ek is ook seker dit is nie net in Centurion nie. Hierdie oppotuniste is oral aan die gang. As hulle kans sien, gryp hulle dit.

Henk ·

Die beste is om een of meer solar veiligheids kameras te installeer. Dis onafhanklik van krag en jy kan bo-op jou dak kyk om jou sonpanele te beveilig. Tegnologie is al wat gaan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.