Phaahla ‘steek verslag oor Kubaanse program weg’

(Foto: Kubaanse ambassade in SA/Facebook)

Óf die departement van gesondheid steek ʼn ouditverslag weg wat reeds na die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vir ondersoek verwys is, óf die departement is hopeloos onbevoeg.

Die DA braak gal oor die verslag na min. Joe Phaahla se opmerkings verlede week dat die departement boonop ondersoek instel na die moontlikheid om die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) te gebruik om die program – waarvolgens Suid-Afrikaanse studente mediese opleiding in Kuba ontvang – te finansier.

Haseena Ismail, ʼn DA-LP en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, sê die party eis dat die ouditverslag bekend gemaak word. Die DA gaan ook die komitee vra om Phaahla te vra om dringend voor die parlement te verskyn om die “kommerwekkende” situasie te verduidelik.

Volgens Ismail probeer die DA vergeefs om sy hande op die verslag oor ʼn interne ondersoek na die verdwyning van studente se beurskontrakte te kry.

Nie net het die party reeds parlementêre vrae daaroor ingedien nie, hy het ook ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) daaroor ingedien.

“Te midde hiervan word ons van bakboord na stuurboord gestuur, met min. Phaahla se antwoord op ons jongste parlementêre vrae wat daarop dui dat sy departement óf heeltemal onbevoeg is, óf alles in hul vermoë doen om te verhoed dat die verslag aan die lig kom,” sê Ismail.

Ismail wou by die minister weet of daar enige aanklagte van korrupsie rakende die program aanhangig gemaak is.

Hierop het Phaahla geantwoord dat geen “korrupsieaanklagte onder my aandag gebring is nie”.

Sy antwoord lui voorts: “Nadat die nasionale departement van gesondheid ʼn interne oudit en rekonsiliasie van Oktober tot Desember verlede jaar saam met die provinsies gedoen het, is dit nie vir die Gautengse departement van gesondheid gedoen nie.

“Die besonderhede van die Gautengse departement van gesondheid is dat alle lêers wat verband hou met die Nelson Mandela‑Fidel Castro-samewerkingsprogram deur die Spesiale Ondersoekeenheid vir ondersoek geneem is.”

Die SOE ontken egter dat hy enigiets van die saak weet, terwyl die tesourie ook laat weet het dat hy nie verantwoordelik vir die ondersoek is nie.

Ismail sê dit is dus uiters kommerwekkend dat die minister sou voorstel dat NSFAS gebruik word om die “gebrekkige program” te finansier.

“Studente betrokke by die program het al gekla oor die gebrek aan behoorlike steun terwyl hulle in Kuba onder swak lewensomstandighede gestrand was.

“Hul ouers is gedwing om tasse met voorraad tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie na hulle te stuur nadat die Suid-Afrikaanse en Kubaanse regerings geweier het om verantwoordelikheid vir die studente te aanvaar,” sê Ismail.

Sy sê Phaahla moet sy opmerkings aan die parlement verduidelik en duidelikheid gee oor die vermiste ouditverslag en die doeltreffendheid van die Nelson Mandela‑Fidel Castro-samewerkingsprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Nou hoekom moet die studente medies gaan studeer in Cuba kan mos in ons land gebeur die poltisie moet net hulle neus uit hoèr onderwys uit hou.

Watsenaam ·

Ek stem saam. Ons Universiteite is 100 keer beter as Kuba sn. Wil net byvoeg, waar gaan sekere mense geld kry om hulle hoe lewenstyl te kan bekostig. Dis mos maklik om so n paar randjies by NSFAS leen?

Manie ·

Maklike geldwassery om geld onder die tafel aan Kuba te skenk.

annie ·

Verstaan. Buitelanders moet hier op ons koste studeer en ons mense in Kuba ook op ons koste. Ons skuld vir ewig die ANC-kaders se maters vir hulp met blyplek en wapens asook wegsteekplek vir die miljarde wat deur die jare opgehoop is. CR se bank kan dalk getuig oor sy job as tussenganger-possitbank na en van…

Harley Davidson ·

Nie alle studente nie daar word teen die huidige benaadeelde wit studente gediskrimineer met kwotas gebaseer op rasisme en daarom word hulle gedwing om in die buiteland te studeer en te praktiseer Die DA moet die diskriminasie beveg .

Jack ·

Hy steek iets of alles weg verseker. Zuma strategie. Opleiding in kuba kan net beter wees as in ons korrupte land gegewe die toestand van ons geriewe.

Nico ·

Stop om Kuba te voorsien aan geld, so word nog ‘n Kommunistiese land gehelp en Suid Afrikaners moet krepeer van elende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.