Philippi-bendes sal net ophou moor as ‘regering betaal’

Veiligheidswagte in ‘n wit bakkie begelei munisipale werkers in Philippi. (Foto: Sandiso Phaliso/GroundUP)

Deur Sandiso Phaliso, GroundUp

Lede van ʼn afpersingsbende sê hulle behoort betaal te word om die Stad Kaapstad se infrastruktuur en werkers te beskerm, nié veiligheidsmaatskappye nie.

“Al wat ons wil hê, is dat die regering moet verstaan dat die beskerming van hul werkers en maatskappye wat aan hulle gekontrakteer is, ons besigheid is,” sê een van twee lede van ʼn Philippi-bende met wie GroundUp gesels het nadat twee veiligheidswagte verlede week in Philippi-Oos vermoor is.

Die twee bendelede sê nóg hulle nóg hul bende was betrokke by die veiligheidswagte se moord op 23 April. Hulle beweer ʼn mededingende bende is daarvoor verantwoordelik.

Die twee veiligheidswagte het werkers van die Stad Kaapstad verlede Dinsdag na Phola Park in Philippi-Oos begelei sodat hulle instandhouding op ʼn rioollyn kon doen. Gewapende mans het die groep oorval en die veiligheidswagte is albei doodgeskiet.

Die twee bendelede met wie GroundUp gesels het, sê hoewel hulle nie betrokke was by dié moorde nie, het hul eie én ander bendes wel bymekaargekom en ooreengekom dat veiligheidsmaatskappye aangeval sal word, sou hulle in hul gebied beweeg.

Die veiligheidsmaatskappye doen wat bendes “veronderstel is om te doen”, verduidelik die twee bendelede. Deur hulle aan te val, “wys ons hulle is nutteloos”.

Die twee bendelede sê indien die regering bendes betaal om infrastruktuur en personeel te beskerm, sal daar geen intimidasie, dreigemente of moorde wees nie. Staatswerknemers en hul kontrakteurs word geteiken omdat “dit lyk of die regering nie met ons wil onderhandel nie”, verduidelik hulle.

“Daar sal geen veiligheidsmaatskappy na ons gebiede kom en staatswerkers en hul gekontrakteerde maatskappye begelei nie, want dit is ons plig om dit te doen. Wanneer die regering ons nie halfpad tegemoet wil kom nie, gaan meer lewens verlore en sal daar bloedvergieting wees.”

Die bendelede sê hulle soek maar “ʼn paar duisend rand van die miljoene rande” wat die regering veiligheidsmaatskappye betaal.

“R50 000 per maand om werkers van vyf verskillende gebiede te beskerm, sal nie die regering benadeel nie,” sê een van die bendelede.

Volgens hom word veiligheidsmaatskappye meer betaal as waarvoor bendes vra.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê verskeie stadsdienste is “erg geraak deur misdadige aanvalle” in dele van Philippi, waaronder die Kosovo- informele nedersetting waar ʼn stormwateropknappingsprojek aan die gang was.

Taktiese reaksie en veiligheidsdienste is aan personeel én kontrakteurs in die Philippi-omgewing verskaf te midde van voortdurende dreigemente.

Dit het die Stad Kaapstad in die afgelope boekjaar R8,5 miljoen gekos.

David Bruce, ʼn konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê georganiseerde misdaad waarby gewelddadige misdaadgroepe betrokke is, het verskans geraak in gebiede soos Nyanga, Philippi en Khayelitsha. Bruce sê ʼn sleutelelement van die probleem is die wydverspreide beskikbaarheid van vuurwapens.

Volgens Bruce het die polisie ook “geen behoorlike strategie” om vuurwapengeweld aan te pak nie.

Bruce meen die veiligheidswagte wat verlede week om die lewe gebring is, is vermoor vir hul vuurwapens.

“Dit is duidelik onvoldoende om gewapende personeel te ontplooi om munisipale werkers te beskerm tensy die wagte self behoorlik opgelei en toegerus is om hulself teen roof of ander aanvalle te beskerm.”

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Wat my aanbetref is die bendelede uiters arrogant,maar hulle sê hulle kan beskermings dienste goedkoper aanbied om net weer deur ander bendelede aangeval te word.Ek is oortuig daarvan dat die vuurwapens wat hulle gebruik onwettig is maar daarvan maak hulle nie melding nie.Hulle hele agenda is om die regering te kaap om sodoende gald te maak.

Jacobus ·

Die veiligheids wagte behoort in n gepanserde voertuig te sit en die mun werkers dophou. As die werkers aangeval word skiet die aanvallers om dood te skiet. Die Kaapse vlakte is soos n oorlog sone aangevuur en wapens verskaf deur die anc regering.

Republikein in die Wes Kaap ·

Anargie. War lords is in beheer. Roei hulle uit, al beteken dit oorlog.

Kokerboom ·

Dis tyd dat die bende nonsens vir een en ALTYD uitgeroei word. Maak jag op hul met mening!

Johan ·

1000% akkoord Kokerboom. Ek blaas nie geweld aan nie, maar hierdie euwel behoort vir eens en altyd vernietig te word.

christo ·

Jy moet goed gerook wees met tik of dagga, want hierdie bendes se redenasie maak geensins sin nie. Die munisipale werkers behoort hulle werk te kan doen, sonder dat hulle lewens in gevaar behoort te wees. Dit wys máár net hoe dwelms jou IK kan verwoes….dof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.