“Ek het baie tyd saam met hom spandeer,” het Neethling aan Sapa gesê. “Hy was een van die onderwysers waarmee ek die meeste interaksie gehad het op skool. Hy het ʼn groot impak op my lewe gehad. Mens het baie onderwysers op skool, maar hy was altyd iemand wat ek onthou het.” Korkie was voorheen ʼn onderwyser by Grey Kollege in Bloemfontein.
Korkie het die vak biologie vir Neethling aangebied en die swemmer was ook in sy registerklas. “Hy was streng en daar was altyd dissipline in sy klasse, maar hy het ʼn kalmte oor hom gehad. Die respek wat hy gekry het was nie iets wat hy afgedwing het nie, dit was iets wat hy verdien het. Hy was ʼn ware heer.”
Neethling het gesê Korkie was passievol oor atletiek en die kinders was lief vir hom. “Honderde seuns, nou mans, toon almal respek aan hom. Hy het ʼn baie groot impak gehad.”
Budd het intussen haar hartseer uitgespreek oor die dood van haar voormalige afrigter en vriend. “Ek is baie hartseer oor Pierre se dood en my hart gaan uit na sy familie. Hy het ʼn ingrypende invloed op my lewe gehad en ek sal hom mis,” het die langafstandatleet gesê. Korkie was in 1988, op die kruin van haar loopbaan, Budd se afrigter.
Korkie en die Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers is Saterdagoggend dood na ʼn mislukte poging om hulle van Al-Kaïda-militante te bevry. Pierre en sy vrou, Yolande, is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het. Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis.