Polisie fnuik aanval op OTM

Daar is op onder meer plofstof beslag gelê. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Mpumalanga het Woensdag ’n beplande bomaanval op ’n outomatiese tellermasjien (OTM) in Vosman buite Emalahleni
(Witbank) gefnuik.

Tien verdagtes is in hegtenis geneem voordat die aanval uitgevoer kon word. Daar word nou vermoed dat dié verdagtes boonop moontlik verbind kan word met die onlangse rooftog by die Devon-polisiestasie in Gauteng.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê polisielede het inligting ontvang oor ʼn moontlike bomaanval op ’n outomatiese tellermasjien wat by Arkerville beplan word. Die polisielede het ’n plan van hul eie beraam om die aanval te fnuik en lede is dienooreenkomstig op strategiese plekke geplaas.

Teen Woensdag 01:30 is die polisiebeamptes toe na ’n huis waar nege verdagtes in ’n wit Ford Ranger met Gautengse nommerplate buite die huis gesit en wag het. Die verdagtes is deursoek en daar is op twee R5-gewere sowel as ’n 9 mm-pistool met ammunisie beslag gelê.

Die vuurwapens se reeksnommers was afgevyl.

Die gevlekte geldnote waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)

Die polisiebeamptes het in die huis op ’n man afgekom wat ʼn paar gevlekte banknote is in sy besit gehad het. Die polisiebeamptes het ook in ’n slaapkamer in die betrokke huis afgekom op plofstof in ’n swart sak.

“Verskeie chemikalieë is glo ook in die huis gevind en ’n ondersoek sal bepaal of die chemikalieë gebruik is om gevlekte banknote mee skoon te maak.”

Mdhluli sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes moontlik by die rooftog by die Devon-polisiestasie verbind kan word. Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het begin vandeesmaand by dié polisiestasie ingestap onder die voorwendsel dat hulle ’n kaping wil aanmeld.  In plaas daarvan het hulle die polisiebeamptes aan diens ontwapen en die polisiestasie van tien vuurwapens beroof.

Die tien verdagtes sal intussen vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie asook die onwettige besit van plofstof in die hof verskyn.

“Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit om nog klagte by te voeg met betrekking tot die gevlekte banknote waarop daar beslag gelê is nie. Die verdagtes kan moontlik verbind word met ander misdade wat elders gepleeg is,” sê Mdhluli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grassie ·

Baie geluk en dankie aan die polisiemanne wat hierdie klomp rowers vasgetrap het. Julle dien as voorbeeld vir ander polisielede wat nie hul plig doen nie.

Daniel ·

Hulle het niks gedoen nie sit maar net en wag vir inligting dis al wanneer hulle iets kan doen Dis die publiek wat hulle help maar alleen beteken hulle niks

Delia ·

Daniel. Dit is presies wat n gemeenskap doen. Hulle werk saam. Dink jy met die ou Regering en Weermagmagte het dit nie ook so gewerk.
Gee maar krediet waar dit toekom. Waardering vir goeie diens gelewer maak jou gemoed ligter

Nie Verbaas ·

Moet asseblief nie vergeet om hulle op borgtog vry te laat sodat hulle kan aangaan waar hulle opgehou het nie. Dit is mos hoe ons grap van n regstelsel werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.