Polisie keer ontvoering van kind

Die huis waar die kind glo aangehou sou word. (Foto: Polisie)

Die polisie se teen-ontvoeringseenheid, in samewerking met private sekerheidsdienste, het Vrydag toegeslaan op ʼn restaurant in Johannesburg waar ʼn groep verdagtes glo besig was om die ontvoering van ʼn minderjarige te beplan.

ʼn 55-jarige Indiër man is gevolglik in hegtenis geneem.

“ʼn Span spesialiste binne die polisie, waaronder die honde-eenheid, misdaadintelligensie en georganiseerde misdaad, het Vrydag inligting opgevolg dat ʼn minderjarige binnekort ontvoer en ʼn stewige losprys vir haar vrylating geëis sou word,” sê kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder in Gauteng.

“Die span het vinnig opgetree en die verdagte by die restaurant in hegtenis geneem. Die man het die span toe na ʼn aantal eiendomme geneem waar twee ongelisensieerde en een gelisensieerde vuurwapen gekry is. ʼn Plaas, wat glo as ʼn veilige plek gebruik sou word om die kind weg te steek, is ook geïdentifiseer en deursoek.”

Die polisie het ook op selfone, SIM-kaarte, skootrekenaars, vervalste identiteitsdokumente en ammunisie beslag gelê.

“Die familie ontvang tans die nodige ondersteuning,” sê Mathe. Klagte van sameswering om te ontvoer sowel as afpersing staar die verdagtes in die gesig.

Generaal Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê 116 verdagtes is tot dusver hierdie jaar in hegtenis geneem in verband met ontvoerings vir lospryse.

“Hierdie is maar net een van die polisie se suksesse in ʼn poging om die net stywer om misdadigers te trek. Ons is vasberade en sal voortgaan om hard te werk om ontvoerings en alle vorme van misdadigheid te voorkom en te beveg,” sê hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.