Polisie skiet kollega wat glo omkoopgeld vat

(Argieffoto ter illustrasie)

ʼn 45-jarige polisiebeampte is Dinsdagaand in ʼn oor-en-weer-skietery met lede van die polisie se nasionale teenkorrupsie-eenheid beseer nadat hy glo met ʼn onbekende bedrag omkoopgeld weggery het. Die voorval het in Highveldpark naby Witbank plaasgevind.

Die betrokke polisiebeampte, wat aan die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad verbonde is, is intussen in hegtenis geneem en van korrupsie en poging tot moord aangekla.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die gebeure het tydens ʼn geheime operasie ontvou.

Dié operasie is deur die teenkorrupsie-eenheid onderneem nadat die verdagte, wat as ʼn adjudantoffisier aangestel is, glo R500 000 by ʼn lid van die publiek (die klaer in die saak) geëis het – glo om ʼn bepaalde ooreenkoms by die steenkoolmyn in die Witbank-omgewing te beklink.

Mohlala het nie verdere inligting oor die aard van dié ooreenkoms verskaf nie.

Die verdagte het die klaer om 22:25 gebel en die geld is toe by ʼn huis afgelaai. Die verdagte het die geld by dié huis afgehaal en in ʼn wit Nissan NP300-bakkie weggery. Dis nie duidelik of daar wel R500 000 in sy besit was nie.

Lede van die teenkorrupsie-eenheid wou verhoed dat die bakkie wegkom toe die verdagte glo skote op hulle afgevuur het. Dit het in ʼn oor-en-weer-skietery ontaard waarin die verdagte beseer is.

“Hy is in hegtenis geneem en na ʼn hospitaal geneem waar hy tans onder polisiebewaking behandel word. Die polisie het ook beslag gelê op die onbekende bedrag geld wat op die toneel gevind is.”

Die verdagte sal binnekort in die Emalahleni-landdroshof verskyn.

Genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, sê voorvalle waar polisiebeamptes hulself by misdadige aktiwiteite betrek, kan nie geduld word nie.

“Interne ondersoeke moet ook volg,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Miena ·

Dit is altyd net snaaks dat daar altyd “per toeval” iemand van die mag of in daardie eenheid werksaam is wat n “side-line job” het wat weet presies hoe dinge te werk moet gaan m.b.t. betalinsg en en en …
Hier is n paar myne hier om ons waar nie net steenkool gemyn word nie, myns insiens sommer geld word ook gegenereer. Langsaan die myn waar ek werk – op die pad – het ons al n paar keer gesien hoe word daar “ge-wheal & deal” sommer so oop en bloot.
En so word ons (wat n JSE listed) mynhuis is, ge-ondermyn…

Frederik C ·

JSE Listed beteken eintlik niks. Afristrat was ook JSE listed.

Herman L ·

Solank as wat misdadigheid in die geledere van die polisie hoogty vier, sal daar geen vordering met misdaad gemaak word nie.

Swerwer ·

Pragtig die wesens word goed opgelei om georganiseerde misdaad uit te voer in pleks daarvan om dit te bekamp.

Di ·

SKOKKEND hoeveel polisielede kriminele is! Geen wonder misdaad kan nie onder beheer gebring word nie want meeste van die polisielede is self KRIMINELE. Daar moet dringend Sekerheidsklarings gedoen word op ALLE lede soos in die verlede. Raak ontslae van ieder en elkeen wat ‘n kriminele rekord het. Hierdie proses moet ook gevolg word met elkeen wat vir die STAAT werk. Weet paar jaar terug het hulle begin om dit te doen maar MEERDERHEID van “OUR PEOPLE” het summier geweier om die vorms te voltooi! Dit het so stil stil verdwyn en nog geen sprake daarvan weer opgekom nie.

Kobus ·

Dit was werklik ‘n groot skrik! Die hele storie het by ons huis afgespeel, toe die skote begin klap het. Ek kan wel met lof praat van die taakmag! Hul was great om ons te probeer veilig te hou tydens die skote.

Meerkat ·

Wat gaan nou van die geld word? Tussen hulle verdeel word of aan die ander oortreeder trug besorg word.

As die polisie dit vat is hul net so skuldig aan die misdaad as die 1 wat die omkoop geld gevra het.

earthwormjim ·

En nou gaan die onbekende hoeveelheid geld by die polisie stasie verdwyn. Goeie werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.