Polisiekaptein in bedrogsaak op borgtog vrygelaat

(Argieffoto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Polisiekaptein het Donderdag in die Springbok-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn waar hy teregstaan ​​op verskeie aanklagte van onder meer diefstal, bedrog, regsverydeling en oortreding van die Toerismewet.

Die staat voer aan dat die beskuldigde, Karel Coetzee du Toit, ʼn bevelvoerder van die Veediefstaleenheid in Springbok, in sy hoedanigheid as direkteur van Pillansii Tours (Edms.) Bpk. én as raadslid vir die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (Jagtersvereniging) verseker het dat die Jagtersvereniging by die hof se vonnisse baat deur skenkings te ontvang, wat deel was van die vonnisse wat opgelê is aan diegene wat pleitooreenkomste of alternatiewe geskilbeslegting met die staat aangegaan het.

Hoewel hy die verklaringsvorms soos vereis deur die polisie voltooi het, het hy die feite verdraai deur te sê dat hy R750 per maand verdien wat nie op sigself ʼn ware inkomste of salaris is nie, maar slegs ʼn gratifikasie (fooitjie).

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die bogenoemde bedrog vanaf 2016 tot 2023 plaasgevind.

“As ʼn lid van die polisie het hy versuim om in sy aansoek vir S252A te noem dat hy sy toerismeonderneming vir lokvaldoeleindes gebruik. Hy het ook nie genoem dat hy geld ontvang van die buitelandse burgers wat in hegtenis geneem is voor die uitvoering van die projek (S252A) nie.”

Senokoatsane sê die beskuldigde se onderneming (beskuldigde 2) was nie geregistreer soos die Toerismewet van 2014 vereis nie.

“Hoewel hy as ʼn senior lid in diens van die polisie was, het hy steeds betalings van buitelandse burgers ontvang wat later aangekla is vir oortredings wat verband hou met die handel en versameling van vetplante sonder ʼn permit.”

Du Toit is op borgtog van R50 000 vrygelaat waarna die saak tot Augustus uitgestel is.

Sy borgtogvoorwaardes is dat hy hom elke Vrydag by die naaste polisiestasie moet aanmeld. Hy mag nie direk of indirek met getuies kommunikeer nie en hom ook nie by die ondersoek van die saak inmeng nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Protea ·

Wow, en mense wat van moord of verkragting aangekla word kry R1000 borg. Maar wat jy gedoen het is verkeerd Kaptein

Wondermaarnet ·

Hopelik kry hy nie meer volle salaris met voordele nie.

SjN ·

Dit is onaanvaarbare optrede deur die kaptein maar borgtog van R50 000? en hy was nie eens by n moord betrokke nie!!!

domheks ·

Lekker ou SA! Kaptein?? seker kader kaaptein. range word sommer van die bome afgepluk! Maar eerlikheid en self trots kan nie gekweek word nie!

Manie ·

Maak asb seker van julle feite. Die man dien nie op die Jagtersvereniging se Raad nie. Hy is ‘n gewone lid van die Namakwa streek se tak op Springbok waar hy onder andere met bewaring te doen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.