Polisieman in plas bloed aangetref

Argieffoto

’n Polisiebeampte is dood nadat hy Dinsdag in die vroeë oggendure in sy huis naby Mahikeng in Noordwes met ’n skerp voorwerp gesteek is.

Die 29-jarige beampte was nie aan diens ten tyde van sy dood nie.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring ’n lid van die publiek het vroegoggend die polisie ontbied nadat die persoon gille in ’n huis in Rhodes Park gehoor het.

Volgens Mathe is die slagoffer by die polisie se aankoms op die toneel in ’n plas bloed aangetref. Die polisiebeampte is na ’n hospitaal gehaas waar hy by sy aankoms dood verklaar is.

ʼn Ooggetuie het ’n 33-jarige vrou as verdagte in die moord op die polisiebeampte uitgewys en die vrou is in hegtenis geneem.

Mathe sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die polisiebeampte in ’n argument met die verdagte betrokke was voordat hy noodlottig gewond is.

Die vrou sal na verwagting Donderdag in die Mmbatho-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

“Ons kan nie die deurslaggewende rol van ons gemeenskappe in samewerking met ons lede om misdaad op te spoor, te voorkom en te ondersoek genoeg beklemtoon nie,” het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, ná die voorval gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.