Polisieman sterf toe hy verdagtes agternasit

Konst. Asive Xolela Dudumayo [Foto: Verskaf]

’n Polisiebeampte van die Bityi-polisiëringsgebied in die Oos-Kaap is Sondagmiddag doodgeskiet nadat ʼn skietgeveg tussen polisiebeamptes en twee verdagtes uitgebreek het.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, was konst. Asive Xolela Dudumayo (31) deel van ʼn groep polisiebeamptes wat omstreeks 17:15 op ʼn klagte in die Enyibeni-nedersetting in Bityi gereageer het.

Die beamptes het ’n verdagte rooi Toyota Corolla-motor gewaar en besluit om dit voor te keer en ondersoek in te stel.

“Twee verdagtes het uit die motor gespring en weggehardloop terwyl die polisie twee vasgetrek het,” sê Kinana. “Van die polisiebeamptes het die twee verdagtes wat weggehardloop het, agterna gesit.”

Skote het kort daarna opgeklink uit die rigting waarheen die verdagtes en polisiebeamptes gehardloop het. Die beamptes se kollegas het ondersoek gaan instel en ʼn gewonde Dudumayo op die grond aangetref. Hy is inderhaas na ’n hospitaal geneem, maar het met sy aankoms by die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Een van die verdagtes is ook in die skietery dood. Nog ʼn verdagte is steeds op vrye voet.

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie en die voertuig.

Konst. Asive Xolela Dudumayo [Foto: Verskaf]

“Die polisie het ’n saak van moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie aanhangig gemaak en ’n geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.”

Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof op Bityi verskyn.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die aanval op Dudumayo ten sterkste veroordeel.

“Aanvalle op polisielede sal ons geensins daarvan weerhou om ons grondwetlike plig na te kom om ons gemeenskappe te dien en te beskerm nie. Die verdagtes wat aangekeer is, moet verantwoording doen vir hul [beweerde] optrede en ons lei na die voortvlugtende verdagte se wegkruipplek,” sê Mene.

Mene het namens die polisiediens haar medelye aan Dudumayo se familie, vriende en kollegas betuig.

“Konst. Dudumayo was een van die mees gedissiplineerde en lojale lede van die polisie, wat bereid was om sy lewe af te lê vir die veiligheid en sekuriteit van sy gemeenskappe. Hy was ’n patriot en ʼn altruïs wat getrou gebly het aan sy roeping as polisiebeampte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Soe jammer. Miskien nog geskiet met ‘n polisie issue geweer, of een van daai wat in gehandig is om vernietig te word.

Sandra ·

My innige simpatie aan sy familie vir die groot verlies. Tot die polisie is nie veilig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.