Polisieman, twee verdagtes dood ná rooftog

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: SAPD)

ʼn Polisiebeampte en twee verdagtes is dood nadat ʼn rooftog by ʼn winkel in Engcobo in die Oos-Kaap in ʼn skietgeveg ontaard het.

Sers. Vakele Mark Mjoli (43) is noodlottig gewond tydens die voorval wat Saterdagoggend plaasgevind het. Hy en drie kollegas het op die rooftog reageer.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het Mjoli een van die rowers as ʼn veiligheidswag aangesien.

“Die rower het voor die deur van die winkel gestaan en het ʼn veiligheidswaguniform aangehad. Mjoli het hom gevra waar die verdagtes is en hy het na die deur gewys. Terwyl Mjoli na die deur gestap het, het die verdagte omgedraai en hom doodgeskiet.”

Die ander polisiebeamptes is in die winkel in waar ʼn skietgeveg uitgebreek het. Konst. Mfundiso Ndede (35) is geskiet en ernstig gewond en is na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Twee verdagtes is ook noodlottig gewond tydens die voorval.

“Daar is op twee vuurwapens en ʼn voertuig beslag gelê. Een verdagte is in hegtenis geneem en nog twee kon daarin slaag om te ontsnap.”

Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord en het ook ʼn geregtelike doodsondersoek geopen. Geen kontant is tydens die voorval gebuit nie.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het haar medelye met Mjoli se familie, vriende en kollegas betuig. Sy het gesê die polisie sal nie rus voor al die ander verdagtes in hegtenis geneem is nie. Mene het die beseerde polisiebeampte ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.