Politieke vooruitskouing vir 2019

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Dis net ʼn dwaas wat in Suid-Afrika te ver in die toekoms sal wil inkyk en voorspellings of vooruitskattings doen, maar kom ons staar maar ʼn oomblik in die kristalbal en kyk wat ons in hierdie stadium van 2019 kan verwag.

Die verkiesing, die ekonomie, die grondkwessie en die impak van die interne dinamika wat tans in politieke partye uitspeel, lyk in hierdie stadium of hulle die politieke nuus in 2019 kan oorheers.

Die verkiesing sal waarskynlik kort voor die middel van die jaar plaasvind. Dit lyk tans na die mees veranderlike politieke klimaat sedert 1994. Pres. Cyril Ramaphosa sal probeer om die ANC se agteruitgang te stuit, maar duidelik het die Ramaphosa-faksie nie landwyd volkome beheer oor die ANC se provinsies en streke nie.

In veral Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal kan interne verdeeldheid die ANC pootjie, mits opposisiepartye die geleenthede kan aangryp en strategies saamwerk, asook hul eie interne probleme oplos. Ons sal vroeg in die jaar reeds redelik goed weet of iets kan kom van dreigemente uit KwaZulu-Natal om die ANC te ontwrig, en wel by die regerende party se verjaardagviering in Durban in die tweede week van Januarie. As ontwrigting van Ramaphosa se toespraak deur uitjouery plaasvind, dui dit reeds op probleme vir die ANC. Indien dit nie plaasvind nie, het die ANC die situasie nog onder beheer.

Mmusi Maimane. Foto: ANA

Die verdeeldheid in die ANC skep geleenthede vir die opposisiepartye, maar binne die opposisie self lyk dit nie veel beter nie. Die DA se binnegevegte raak al meer openbaar en word veral in die Wes-Kaap skokkend swak bestuur deur die provinsiale en nasionale partyleierskap. Ook in KwaZulu-Natal is DA-verdeeldheid aan die orde van die dag. In die res van die land lyk dit beter, met die Gautengse DA wat die voorbeeld stel en vir ʼn verkiesingsverrassing kan sorg.

Dit is onseker of enige deurdagte strategiese denke tans in die DA plaasvind. Dit is sedert die munisipale verkiesing van Augustus 2016 duidelik dat die ANC kan steier voor ʼn sterk opposisie-aanslag. Wat doen die DA om ʼn verenigde opposisie teen ANC-vergrype te bou? Te min – indien hoegenaamd enigiets. Wat is die DA se plan, opsies en voorkeure indien die ANC nasionaal of provinsiaal onder 50% van die steun kry? Was dit slim om samewerking met die ANC en die EFF te laat uitsluit deur van hul leiersfigure se weliswaar rond en bont uitsprake? Die tyd sal leer.

Die EFF dra swaar aan die VBS Bank-las en ander voorbeelde waar hulle aan hul duur verworwe beeld as korrupsiebestryders tekort skiet. Baie kiesers word ook afgesit deur hul rassisme. Al een van die groot vier partye wat verenig staan, is die IVP.

Die EFF-leier, Julius Malema. Foto: ANA

Wie ook al die verkiesing in 2019 wen, sal die ekonomie moet probeer regruk, anders gaan hulle in elk geval baie min kan regkry. Hiervoor moet vertroue in die staat se finansiële bestuursvermoë herstel word. Staatsbestuurde instellings moet strenger beheer word en sowel staatsbesteding as die begrotingstekort moet ingekort word. Politieke vertroue moet herstel word sodat investering kan toeneem. Stappe sal gedoen moet word om die uitvloei van middelklaskundigheid te keer.

Laastens is daar die grondkwessie. In 2018 is die verkeerde oplossing, naamlik grootskaalse onteiening sonder vergoeding, voorkom, wat ʼn puik prestasie vir alle betrokkenes, voor en agter die skerms, was. Geen oplossing is egter nog gevind nie.

ʼn Wysiging aan die Grondwet oor die herverdeling van grond lyk tans hoogs onwaarskynlik, want met die ANC en die EFF wat stry gekry het, ontbreek die vereiste stemme daarvoor. As daar wel ʼn grondwetlike verandering is, sal dit redelik niksseggend wees. Die kritiek dat mens nie met beuselagtige veranderings aan die Grondwet moet kom nie, is gegrond, maar wie wil kla moet hulself afvra of hulle eerder omvattende grondwetlike veranderings sou wou sien, want ʼn verandering was onafwendbaar ná die ANC se konferensie die beleidsbesluit geneem het in Nasrec in 2017.

Die bewoording van die Onteieningswetsontwerp wat reeds by die parlement ingedien is, gaan nou seker die volgende stryd oplewer.

Wat mense moet besef, is dat die probleem nie opgelos is net omdat die ramp afgeweer is nie. Die grondkwessie gaan in ʼn groot mate nie oor grond nie. Dit gaan oor ongelykheid weens strukturele ongeregtigheid. En as ʼn manier nie gevind word om dit te takel en te verlig nie, gaan ons almal die gelag betaal.

Die oplossing sal daarin te vinde wees dat diegene wat het, diegene wat nie het nie volhoubaar moet help. Hoe dit moet gebeur, is onduidelik en bied ʼn interessante en bepalende uitdaging vir die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae