Pretoriase sanger sterf ná weke in hospitaal

(Foto: Facebook/Du Preez van Heerden)

Du Preez van Heerden, ʼn plaaslike sanger van Pretoria, is Vrydag in die hospitaal oorlede nadat hy in Maart vanjaar ernstige brandwonde opgedoen toe hy in ʼn kampvuur geval het.

Van Heerden het in ʼn plasing op Facebook vertel dat hy tydens ʼn kuier saam met ʼn groep vriende om ʼn kampvuur stories uitgeruil het, toe hy oor ʼn steen struikel en rug eerste in die vuur geval het.

Hy het probeer om uit die vuur te kom, maar sy klere het reeds aan die brand geslaan. Sy vriende kon hom oomblikke later eindelik uit die vuur help en het hom in ʼn swembad gegooi.

(Foto: Facebook/Du Preez van Heerden)

Ná vyf dae waarin hy self probeer het om sy wonde te behandel is hy eindelik hospitaal toe waarna mediese personeel by ʼn Pretoriase-staatshospitaal bevestig het dat Van Heerden derdegraadse brandwonde oor sy rug, arms, borskas en agterstewe opgedoen het.

Hy het egter later ook skade aan sy hart en longe ontwikkel.

Van Heerden het Woensdag ʼn video op Facebook geplaas waarin hy sy tienjarige seuntjie, Zandu, met sy verjaardag gelukwens.

“Jy is pappa se alles, ek is baie jammer ek kan nie daar wees nie. Ons kort geld om hier uit te kom sodat ek privaathulp vir my wonde en longe kan kry.”

Hy het egter Vrydag sy pynlike stryd verloor.

Die gewilde sanger Blackie Swart en talle ander het intussen meegevoel betoon.

“Dit is bitter. Rus in vrede my vriend. Du Preez van Heerden, dit is net nie reg nie,” het Swart in ʼn plasing op Facebook geskryf.

“Jy het tot die einde hard geveg ou maat,” skryf Jannie Duvenhage.

“Baie sterkte aan die familie en veral klein Zandu. Mag liewe Jesus julle styf vashou in hierdie moeilike tyd.”

(Foto: Facebook/Du Preez van Heerden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.