Prokureur wil POF se voorsitter, hoof misdadig laat verklaar

Collins Letsoalo (Foto verskaf deur Untu)

’n Prokureur van Kaapstad het ’n aansoek namens 28 kliënte by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien om die Padongelukfonds (POF) se raad, voorsitter en uitvoerende hoof tot misdadige direkteurs te laat verklaar.

Die aansoek hou verband met beweerde verkwistende besteding deur die POF se bestuur.

Kabelo Malao, direkteur van K Malao-prokureurs in Claremont, vra in die aansoek dat Lorraine Francois, voorsitter van die raad, Collins Letsoalo, uitvoerende hoof, en die raad van die POF tot kwaadwillige litigante verklaar word weens die beweerde oortreding van rekenkundige standaarde, die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Wet op Padongelukfondse.

Malao voer aan diegene verantwoordelik vir die bestuur en die finansiële toesig oor die fonds het die parlement mislei en versuim om hul fidusiêre pligte na te kom.

Luidens die aansoek het die POF die parlement mislei deur onder meer herhaaldelik aan te dring op die gebruik van ʼn rekeningkundige standaard wat die direksie se skuldprofiel met tot 90% vervals het.

Die applikante vra nou dat die respondente onbevoeg verklaar word om die sake van enige staatsonderneming te bestuur.

Die ministers van onderskeidelik vervoer en finansies, die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer, die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die speaker van die parlement is ook as respondente in die aansoek aangedui omdat hulle ’n belang in die saak het.

Hulle is egter nie verplig om die aansoek teen te staan nie.

Malao sê die aansoek volg nadat hy geen vriendskaplike skikking kon bereik oor pogings om Letsoalo en die POF-direksie aan te moedig om onder meer verkwistende uitgawes te laat staan nie.

Malao sê hy en sy kliënte het ’n regstreekse belang by die POF.

“Indien die aansoeker se eis deur die POF gefnuik word weens weiering om te betaal, word ek, die applikante en my firma uiteraard regstreeks geraak. Ek en die applikante het dus ’n belang by die bekwame bestuur van die POF,” verduidelik Malao in die aansoek.

Die fonds spook al jare lank om die magdom eise van slagoffers te verwerk en sy finansiële verpligtinge na te kom.

Dit is nie duidelik wanneer die aansoek aangehoor sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yolandie ·

Die beste plek vir die ANC om hulleself in te verryk want alle Suid-Afrikaners wat ‘n voertuig besit moet brandstof in hulle voertuie gooi en whala………dit word dag vir dag opgetop met ons hard verdiende salarisse. Wonderlik dat die belasting betalers hulle vet salarisse betaal, hulle beveiliging, hulle ligte aanhou……..hulle reistoelae en so kan ons ook aangaan. Maar steeds is hulle so uitgevreet hulle moet nog die prys van petrol ook optop sodat hulle nog geld uit ons uit kan kry. Dis nimmer eindigend…….maar ek berus my daaraan dat God nie slaap nie, en dat hy bewus is van ALLES wat die ANC aan sy land en mense gedoen het oor die 30jaar…….en SY oordeel sal kom……dis al wat ek kan sê.

Lettie ·

Die oordeel gaan kom. Daar is mense wat hul al openlik uitgespreek het oor Jesus en die kruis. Be aware! Jesus lives and that is true!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.