Prokureurs moeg gesukkel met meester se kantoor

(Foto: GroundUP)

Ella Morisson, GroundUp

Prokureurs kla dat die kantoor van die meester van die hooggeregshof toenemend wanfunksioneel is; gevolglik vat dit soms jare om boedels af te handel, trusts te likwideer of selfs net toesighouers vir trusts aan te stel.

Die meester se kantoor hanteer ook die Voogdefonds wat geldsake bestuur van dié mense wat wetlik onbevoeg is om na hul eie sake om te sien, soos kinders of mense met geestesversteurings.

Volgens ʼn prokureur van Kaapstad, wat op voorwaarde van anonimiteit met GroundUp gepraat het, het die wiele tydens die Covid-19-pandemie as’t ware begin afval. GroundUp het foto’s gesien wat na bewering binne die meester se kantoor in Johannesburg geneem is, wat wys hoe papiere oor matte en lesenaars gestrooi lê. Volgens prokureurs is dit onmoontlik om peil te trek op die kantoor. Party dokumente word binne weke uitgereik, ander eers ná maande.

Ronel van Rooyen, ʼn prokureur van Pretoria, sê die kantoor reageer nie op e-posse of oproepe nie en lede van die publiek kry ook niemand in die hande indien hulle persoonlik by die kantoor opdaag nie. “Niemand neem beheer van sake daar nie.”

Nog ʼn Kaapse prokureur, wat ook anoniem wou bly, sê wanneer ʼn oorledene se boedel gelikwideer word, word dokumente aan die meester se kantoor voorgelê. ʼn Brief van eksekuteurskap moet dan binne 21 dae uitgereik word. Sonder hierdie brief bly die bates gevries.

“Dit is ʼn baie eenvoudige proses. Die dokumente moet net verwerk word, maar nou moet die applikant dit ses tot tien keer persoonlik daar gaan opvolg voordat dit gedoen word.” Hy sê dit kan soms tot ʼn jaar vat om so ʼn brief uit die meester se kantoor te kry.

Volgens Brenton Ellis van die fidusiêre instituut van Suid-Afrika (Fisa) is 15 stappe nodig om ʼn boedel af te handel en dit behoort net tussen ses en agt maande te neem. “Maar hierdie tydlyn is hoogs onwaarskynlik.”

Katherine Gascoigne, ʼn prokureur van Johannesburg wat gereeld met die meester se kantoor saamwerk, sê dié kantoor het beheer oor miljoene rande. “Hierdie geld kan nie terug in die ekonomie geploeg word nie omdat erfgename nie toegang tot hul geld kan kry nie. Die uitkringeffek is enorm.”

Sy sê haar firma het al soveel keer aansoek gedoen vir ʼn bevel van die hof vir die kantoor om sy werk te doen dat dit nou al amper protokol geword het.

Swak digitalisering

Die meester se kantoor is tans in die proses om sy stelsels te bespoedig deur digitalisering. In Maart het die meester se kantoor in Gauteng meer as ʼn dekade se lêers van die kantoor af weggeneem om in te skandeer en so makliker toegang daartoe te verkry. “Ons is aanvanklik meegedeel dat ons vir ses weke geen toegang tot hierdie lêers sou hê nie. Nou, ʼn klomp maande later, het ons nog steeds nie toegang nie,” sê Gascoigne.

Sy sê die aanlyn diensportaal is ook power. “Ons kan nie toegang tot enige dokumente kry nie en daar is geen direktief daaroor of ons goedgekeur is en wat die volgende stappe is nie.”

Ronald Lamola, minister van justisie, het ʼn week gelede ʼn nuwe aanlyn platform van stapel gestuur, waarop lede van die publiek self ʼn oorledene se boedel kan registreer. Een van die Kaapse prokureurs is egter skepties of dit ʼn werkbare oplossing vir die agterstand is. “Werkers van die meester se kantoor gaan nog steeds die dokumente moet verwerk en elke liewe dokument moet nagaan.”

Die aanlyn stelsel is boonop die afgelope drie jaar drie keer deur kuberkrakers geteiken en van miljoene rande besteel. Gedurende elke aanval was dienste weke lank ontwrig. Volgens die inligtingsreguleerder kon die aanval in 2021 verhoed gewees het, indien die departement van justisie hul teenvirus-sagteware hernu het. Die departement is gevolglik met R5 miljoen beboet vir oortreding van die wet op beskerming van private inligting (Popia).

Die departement het destyds wal gegooi deur te sê hulle was in die proses om die sagteware te hernu, maar dat die proses langer geneem het as wat hulle gedink het.

Prokureurs met wie GroundUp gesels het, sê al die meester se kantore, behalwe dié in Pretoria, werk nie wanneer daar beurtkrag is nie. Volgens Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement, sal die nuwe aanlyn portaal egter altyd toeganklik vir lede van die publiek wees.

“Daar kan wel ʼn paar uur lange vertraging in reaksie vanaf die meester se kantoor wees, indien die kantoor nie rugsteunkrag het nie en dus nie by die stelsel kan aanmeld nie.”

Kroniese tekort aan mannekrag

Terwyl die meester se kantoor meestal net ʼn in-persoon-diens lewer, is daar klaarblyklik landwyd ʼn tekort aan assistent-meesters wat afteken op lêers en lede van die publiek leiding gee oor wat hulle moet doen. Volgens Fisa is 35% van poste by die meester se kantoor in Kaapstad tans vakant.

Francois Bouwer, ʼn prokureur van Pretoria, sê ook daar is niemand wat leiding neem van die kantoor in Pretoria nie. “Die rol van waarnemende hoof word tans elke paar maande onder personeel geroteer. Ons het gevalle gehad waar ʼn assistent ʼn dokument sal uitreik wat nie in ooreenstemming is met die hoofmeester se riglyne nie. Hulle tree volgens eie oordeel op.”

Nog ʼn probleem, sê Bouwer, is dat sommige personeellede by die meester se kantoor nie altyd gedrukte kopieë van ʼn hofdokument aanvaar nie. “Ons kry hofbevele elektronies en druk dit dan uit om by die meester se kantoor in te dien. Party assistente aanvaar nie dié hofbevele nie, aangesien dit nie die oorspronklike stempel van die hof bevat of deur die registrateur geteken is nie. Nou moet ons hof toe gaan om ʼn getekende verklaring vir elke liewe dokument wat ons inhandig te kry.”

Bouwer sê dit word nie deur enige wet of riglyn van die hoofmeester vereis nie.

Gascoigne sê die Johannesburgse prokureursvereniging het al aangebied om die meester se kantoor te help om die agterstand op te klaar, maar dit is van die hand gewys. Sy vermoed dis omdat personeel van die meester se kantoor oortyd betaal word om die agterstand op te klaar.

Van Rooyen sê weens die gebrekkige manier waarop lêers geliasseer word, is dit ook amper onmoontlik om iets op te spoor.

“Ouer lêers is ʼn nagmerrie. Ons het gevalle gehad waar ons jare lank vir ʼn lêer gewag het.”

Een van die prokureurs in Kaapstad sê dinge het tydens die Covid-19-pandemie begin skeefloop. “Baie van die lêers is wanaangewend en gevolglik verloor. In baie gevalle moes mense heelwat inligting van voor af indien.”

Lamola het in Augustus 2022 reeds gesê die agterstand weens die Covid-19-pandemie, asook die kuberaanval in 2021, sou einde 2022 al opgeklaar wees.

GroundUp het sedert 11 Oktober probeer om kommentaar op bogenoemde bewerings vanaf die meester se kantoor te kry. Afgesien van ʼn antwoord deur ʼn assistent dat die vrae aan die waarnemende hoofmeester gestuur is, het die nuusdiens geen reaksie op herhaalde e-posse ontvang nie.   

Dít is ʼn verkorte weergawe van ʼn berig wat op GroundUp geplaas is. Lees die oorspronklike berig hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AH ·

My skoonma is al in Januarie 2019 oorlede en ons wag nogsteeds vir haar boedel om afgehandel te word. Dit is niks minder as ‘n skande nie!

Louis ·

My stief-kinders wag nou al 11 jaar vir hul pa se boedel om afgehandel te word. Nege jaar daarvan is ons wat herhalend die Meester van die Hof nader om die eksekuteer te verwyder en die nuwe eksekuteer (wat al die begunstigdes wil aanstel) aangestel te kry.

Eclectus ·

My ma wou in haar inhalige vrekkigheid nooit iemand volmag gee vir die dag wat sy nie meer haar sake kan bestuur nie, nou sukkel ons om ‘n administrateur aangestel te kry. Die meester het wel al iemand gestuur om te sien of sy wel versorg word en daar was toestemming verleen om solank haar kar te verkoop. Intussen sukkel ons om beleggings wat los kom weer vir haar te belê en haar medies weier om met ons te praat. Soos ‘n briefskrywer onlangs aan ‘n Kaapse koerant geskryf het, “Tegnologie en onderwys kan nie vergoed vir ingeburgerde luiheid en onnoselheid nie”. Miskien is die prokureur re wat sê hulle weier hulp omdat hulle ortyd kry, maar miskien doen hulle dit ook om hulle onkunde te verberg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.