‘Prominente’ sakeman in hof vir motorlisensie-bedrogspul

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn Prominente sakeman van Mpumalanga is die 17de verdagte om in hegtenis geneem te word in verband met ʼn motorlisensie-bedrogspul van meer as R60 miljoen.

Demieties Peter Botes (47) het Dinsdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn en is op borgtog van R15 000 vrygelaat.

Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie staan Botes op 261 aanklagte van bedrog tereg wat voortspruit uit transaksies wat in 2017 gedoen is toe sy vloot voertuie glo bedrieglik gelisensieer is deur munisipale amptenare.

Die saak is tot 20 Julie vanjaar uitgestel wanneer Botes en sy medebeskuldigdes in die Mbombela-handelsmisdaadhof sal verskyn.

Die eerste verdagtes in die saak is reeds in Julie verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings het gevolg op uitgebreide ondersoeke waarby die Padverkeersbestuurskorporasie se nasionale teenkorrupsie-eenheid, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid betrokke was.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die administratiewe klerke die eNatis-stelsel gemanipuleer het om motorvoertuigeienaars te help om die betaling van voertuiglisensiegeld en boetes wat aan die staat verskuldig is, te vermy.

Die ander beskuldigdes is Thembi Millicent Motlohi (43), Allman Thabani Masuku (35), Xoliswa Celia Ngcelwane (52), Nompulelo Winnie Nxumalo (44), Agnes Nosipho Ndzinisa (54), Nkosinathi Samuel Gumede (37), Thabang Khumalo (Clifford) (41), Nonhlanhla Precious Matsheka (42) en Nkosinathi Mahlalela (36).

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, Valke-woordvoerder, het gesê die ondersoek duur voort en die moontlikheid van verdere inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Schalk ·

Dit gaan te lekker in hierdie hool wat ons n land noem. Viva!!!!

Amelia ·

Lyk my elke dept het iemand wat hom skuldig maak aan kurupsie Botes ons nie jou nodig in die land nie verkas asb o ja ander lande soek jou tipe ook nie daar nie gaan bly maar saam met jou krimenele vriende op n eiland of waar ook al

Elize ·

Wanneer begin hulle by die bestuurslisensies wat die mense so koop??

Koos 100 ·

Ek is eintlik net geskok oor die feit dat hulle dink hulle kan wegkom hiermee. Daar word ‘n transaksie op ‘n rekenaar stelsel gedoen. Dis is “traceable”.

Wielspore ·

Ons was ‘n slagoffer van hierdie soort transaksies in Nelspruit, het ‘n gebruikte Citi Golf op huurkoop by ‘n bekende Nelspruit handelaar (Nie VW) gekoop. Na die aankoop het heelwat versteekte foute en skade op die voertuig voorgekom en die handelaar het net sy skouers opgetrek dat hy die voertuig padwaardig aan my gelewer het. Ons kon die toets stasie se besonderhede op die padwaardigheids sertifikaat opspoor en hulle het ook net laat weet dat die voertuig padwaardig was die dag met die toets. Die handbriek was buite werking, totaal stukkend, die enjin kap kon nie oopmaak, die kabel was afgebreek, agterligte was van twee verskillende modelle, wielsporing kon nie ingestel word as gevolg van onderstel skade. Voertuig het aanhou links trek as gevolg van ongeluk skade. Hierdie toets sentrum is ook onlangs betrek by die uitryking van padwaardigheids sertifikate sonder dat die voertuig ondersoek word. My skade was R9000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.