Provinsies, parke gerat vir Paasnaweek

Argieffoto bloot ter illustrasie van die verkeerspolisie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Paasnaweek spel vir baie mense ʼn tyd van rus en ontspanning. Dit beteken egter ook dat die land se paaie aansienlik besiger gaan wees soos wat mense na ander bestemmings reis.

Verskeie provinsiale departemente en nasionale parke het egter aangedui hulle is gerat om swaar verkeer en ʼn toestroming van besoekers te hanteer. Motoriste kan ook baie meer verkeerspolisie op die land se paaie verwag.

Nasionale Krugerwildtuin

Die Krugerwildtuin het Woensdag aangedui dat die meeste van sy kampe reeds vol bespreek is, en dat hulle maatreëls gereed het om ʼn verhoogde aantal besoekers aan die park te hanteer.

“Ons het reeds planne gereed om verkeer te monitor vir die veiligheid van ons besoekers en die diere.

“Uit ervaring het ons al gesien dat mense dikwels die spoedgrens verontagsaam – veral soggens of laatmiddag om die uitgangshekke voor toemaaktyd te haal,” het Oscar Mthimkhulu, uitvoerende direkteur van die Nasionale Krugerwildtuin, gesê.

Die park sal glo meer verkeerspolisie en personeel inspan om te verseker dat padgebruikers en besoekers algemene reëls gehoorsaam – in die park, sowel as in die omliggende gebied.

Dagbesoekers word verder aangeraai om vooruit te bespreek aangesien die park ʼn beperking op dagbesoekers oor die Paasnaweek gaan plaas.

Die wildtuin sê voorts dat van sy grondpaaie in die suide van die park nog ná grootskaalse oorstromings in Februarie gesluit is.

“Herstelwerk duur voort aan die hoofpad tussen Skukuza en Onder‑Sabie wat vroeër die jaar erg [deur oorstromings] beskadig is.

“Besoekers word versoek om nie enige waarskuwingstekens te verwyder nie.”

Verhoogde sigbaarheid langs R71

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Florence Radzilani, het Operasie Paseka Woensdag op die R71-pad naby Marobathota High School van stapel gestuur as deel van die provinsie se inisiatief om padveiligheid te bevorder en misdaad hok te slaan. Die plan sal onder andere in samewerking met die provinsiale verkeerspolisie en die gemeenskapspolisiëringsforum uitgevoer word.

Dit sluit padblokkades in waartydens voertuie afgetrek en deursoek sal word.

Meer verkeer word veral op dié pad verwag met mense wat na godsdienstige byeenkomste saamtrek.

Baie besoekers word ook by die verskeie toerismebestemmings in die provinsie verwag.

“Ons het ’n baie groot verantwoordelikheid om ons mense te leer om hul eie land lief te hê en te doen wat reg is. Dit bring vreugde in my hart om te hoor ʼn oortreder is in hegtenis geneem, want dit beteken polisiebeamptes doen hul werk,” het Radzilani gesê.

Sterker monitering by Lebombo-grens 

ʼn Bedryfsplan vir strenger regulering by die Lebombo-grens in Mpumalanga sal ook oor Paasnaweek uitgerol word. 

Dr. Mike Masiapato, kommissaris van die grensbeheerowerheid, sal die grenspos na verwagting Donderdag besoek om die plan met die betrokke rolspelers te bespreek.

Kaapstad sit skouer aan die wiel 

Die Stad Kaapstad sê al sy hulpbronne is ingespan om verskerpte veiligheidsmaatreëls oor die volgende paar dae in te stel.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê dis uiteraard ook belangrik dat mense hul eie oordeel gebruik en aan die regte kant van die gereg bly. Nietemin sal daar op alle terreine samewerking tussen wetstoepassingsowerhede en verskeie reddingsorganisasies wees.

“Baie van ons uitdagings word egter direk aan mense se gedrag gekoppel. As ons almal doen wat ons moet, insluitend om padreëls te gehoorsaam, hoflik te wees, alkohol verantwoordelik te gebruik en niks te doen wat ander se lewe in gevaar stel nie, kan dit een van die beste Paasnaweke nog wees wat veiligheid betref,” het Smith gesê.

Smith herinner die publiek ook daaraan om paraat te wees en enige verdagte aktiwiteite by die toepaslike owerhede aan te meld. Hoe vollediger die inligting wat verskaf word, hoe beter kan die situasie hanteer word.

Hoë polisiesigbaarheid sal gedurende die naweek op paaie in en om die metro wees, veral op besige reisdae. Langafstandoperateurs kan ook Donderdag tot die einde van die dag gratis veiligheidsinspeksies op hul voertuie laat doen as deel van Operasie Eksodus.

Volgens Smith het 295 minibusse, mediumgrootte busse en minibus-taxi’s reeds as deel van hierdie operasie inspeksies ondergaan.

Die polisie, verkeerspolisie, buurtwagte en ander veiligheidsinstansies sal ook patrollies op strande en in ander bedrywige gebiede uitvoer – ook by misdaadbrandpunte.

 Gautengers versoek om veilig te ry

In Gauteng word motoriste aangemoedig om uiters versigtig te ry en padreëls te gehoorsaam.

Volgens die provinsie se veiligheidskomitee sal meer verkeerspolisie ook op strategiese plekke in die provinsie ontplooi word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonny ·

Paasnwk altyd baie sterftes,
Want baie dink dis nòù die
Geleentheid om te drink..!
In plaas van die regte rede
Waaroor paasfees gaan te vier!

TruthDealer ·

Wat vir my eienaardig is, is hoeveel mense kla hulle sukkel hulle byna dood net om aan die lewe te bly want alles is so duur. Maar op paasnaweke, langnaweke en in Desember is die paaie en vakansieplekke uit hul nate gepak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.