R1,5 miljoen se dwelmmiddels by OR Tambo gevind

OR Tambo-lughawe (Foto: O.R. Tambo International Airport/Facebook)

Die Valke het vandeesweek by die OR Tambo- internasionale lughawe op ʼn besending van dwelmmiddels ter waarde van R1,5 miljoen beslag gelê.

Kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die Valke se eenheid in Germiston, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, is Woensdag na die lughawe ontbied.

“Die polisie is in kennis gestel deur ʼn koeriermaatskappy wat op 11 sakke met dwelmmiddels, wat elkeen 25 kg geweeg het, afgekom het. Die vermoedelike dwelmmiddels, toegedraai in deurskynende plastiek, is versteek in ʼn bruin houer.”

Die dwelmmiddels is na ʼn forensiese laboratorium geneem vir analise.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.”

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke, het die koeriermaatskappy geloof vir hul waaksaamheid en samewerking met owerhede. “Hierdie beslaglegging sal die bedrywighede van die dwelmsindikaat lamlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.