R5 miljoen-projek vir kommersiële arbitrasie aangekondig

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Die sakeorganisasie Sakeliga kondig Dinsdag ʼn loodsprojek met meer as R5 miljoen se pro deo* (gratis) arbiterdienste vir kommersiële arbitrasie in Pretoria aan.

Die projek het ten doel om die enorme agterstand met kommersiële regspleging in Suid-Afrika, wat die ekonomie ernstig kniehalter, te help oplos. Partye met verhoorryp sake in die Pretoriase hooggeregshof, oor ʼn kommersiële aangeleentheid, word genooi om hul geskille na ʼn geskikte arbiter op Sakeliga se arbiterlys te verwys.

“Daar is verskeie kommersiële partye op die hofrol wat nou al maande op ʼn hofdatum wag, maar ook nie honderde duisende rande op arbitrasie kan bestee nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Ons arbitrasieprojek maak dit vir daardie partye moontlik om sonder bykomende koste hul geskille te laat besleg, deur ervare advokate en prokureurs wat bereid is om pro deo op te tree. Dit is bemoedigend dat die regslui wat ons genader het so geredelik na vore getree het en die projek nou van stapel gestuur kan word.”

Vir die loodsprojek het rondom 40 advokate en prokureurs in Pretoria, waaronder 20 senior advokate, hul dienste as arbiters pro deo, oftewel kosteloos, in belang van die regspleging en gemeenskaplike goeie, aangebied. Die dienste is beskikbaar vir verhore wat binne drie dae afgehandel kan word en val binne die spesialisvelde van die arbiters. Saam gereken, beloop die waarde van die dienste wat die arbiters pro deo aanbied meer as R5 miljoen.

Sakeliga het die ontwikkeling van sy arbitrasieprojek bespoedig nadat dit aan die lig gekom het dat sowel die Pretoriase landdroshof as die hooggeregshof vir ʼn geruime tyd geweier het om bestrede sake aan te hoor, oënskynlik met verwysing na Covid-19. Hierdie howe het intussen aangekondig dat alle sake weer aangehoor word, maar staar nou groot agterstande in die gesig wat al oor jare opbou.

“Alhoewel alle sake weer in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor mag word, is daar ʼn enorme bottelnek op die hofrol. Sommige partye moet nou tot twee jaar op ʼn hofdatum wag. Dit hou groot risiko’s vir besighede met sake op die agterstallige hofrol in – veral waar verhaalbare bedrae en afdwinging van ooreenkomste ter sprake is. Sakeliga se arbitrasieprojek is ontwikkel sodat regslui op ʼn selfstandige wyse, in gemeenskaplike belang, die bottelnek kan oplos. Indien die loodsprojek genoeg aanvraag geniet, sal dit aangepas en uitgebrei word, wat kostedoeltreffende finansiering en vergoeding vir arbiters kan insluit.”

Partye en regslui wat geskille na Sakeliga se arbitrasienetwerk wil verwys, kan ʼn eenvoudige proses volg deur https://sakeliga.co.za/arbitrasie te besoek. Sake kom slegs in aanmerking indien dit:

  • verhoorryp in die Pretoriase hooggeregshof is;
  • kommersieel van aard is;
  • die instemming van alle partye tot die saak, via Sakeliga se platform, bekom is; en
  • verhore behels wat na verwagting een tot drie dae sal duur.

Sakeliga se bekendstellingsfunksie vir die arbitrasieloodsprojek sal Dinsdag 19 Oktober 2021 om 10:00 begin en kan by hierdie skakel gevolg word.

*In die Suid-Afrikaanse reg kom daar hoofsaaklik drie vorme van kostelose of kosteverminderde regsdienste voor: pro amico (ten behoewe van ʼn vriend), pro bono (ten behoewe van ʼn verdienstelike persoon) en pro deo (ten behoewe van ʼn verdienstelike saak, in besonder die gemeenskaplike goeie). Omdat die dienste wat die regslui in hierdie arbitrasieprojek kosteloos gelewer word in belang van die regspleging self en die gemene goeie in die samelewing is, is pro deo die aangewese term.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bertus ·

Hierdie inisiatief van die Sakeliga verdien groot waardering. Nog ‘n voorbeeld wat ons kan bereik as ons dink en planne binne die reg maak. Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.