Raadslid en twee mans in Piet Retief doodgeskiet

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Raadslid Sbonelo Methembu (36) en twee ander mans is Vrydagaand by die Longhomes- informele nedersetting in Piet Retief, Mpumalanga, doodgeskiet.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het omstreeks 20:00 plaasgevind.

“Die raadslid en sy motorwerktuigkundige is deur ʼn vriend in ʼn bakkie afgelaai toe drie gewapende mans onverwags in die erf verskyn het. Hulle het verskeie skote op die raadslid gevuur en die vriend, wat nog in die bakkie was, doodgeskiet. Die motorwerktuigkundige is ook tydens die voorval geskiet.”

Die drie verdagtes het daarna in ʼn onbekende rigting gevlug.

Die polisie en paramedici in Piet Retief is ontbied en die raadslid en motorwerktuigkundige is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Die motorwerktuigkundige is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar en die raadslid het kort daarna ook aan sy beserings beswyk.

Die man in die bakkie is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie ondersoek drie aanklagte van moord. Die verdagtes is nog voortvlugtig. Enigiemand met verdere inligting word versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.