Ramaphosa na G20-beraad

Die G20-beraad word vir die eerste keer in Japan aangebied. (Foto: Jae C. Hong/AP)

Pres. Cyril Ramaphosa lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die G20-beraad in Japan later die week, wanneer hy ʼn staatsbesoek aan Japan bring.

Dit is Ramaphosa se eerste internasionale vergadering sedert hy ná die verkiesing in Mei as president ingehuldig is. Dit is ook die eerste keer dat Japan die G20-beraad aanbied.

Die beraad word in Osaka gehou, terwyl talle ander vergaderings op agt verskillende plekke in Japan gehou gaan word.

Ramaphosa word vergesel deur die minister van finansies, Tito Mboweni, die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, asook die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel.

Die G20 is in 1999 op die been gebring om internasionale samewerking vir die herstel van die wêreldekonomie te verbeter, om stabiliteit aan die internasionale finansiële stelsel te verleen en om langtermyn‑ volhoubare groei en gesonde internasionale regering te bevorder.

Vanjaar se beraad fokus op agt temas, waaronder die internasionale ekonomie, handel en belegging, innovasie, die omgewing en energie, werkskepping, die bemagtiging van vroue, en ontwikkeling en gesondheid.

Die presidensie sê dié temas is in ooreenstemming met dié prioriteite wat Ramaphosa verlede week in sy staatsrede uitgelig het.

“Suid-Afrika se deelname aan die beraad spruit uit die land se beleid oor internasionale betrekkinge, wat daarop gemik is om ʼn beter Suid-Afrika te skep, asook ʼn beter Afrika en ʼn beter wêreld.”

Dit sê die beraad bied ʼn platform aan Suid-Afrika om onder andere finansiële steun vir infrastruktuurontwikkeling te werf.

Suid-Afrika, wat sedert 2010 die medevoorsitter van die G20-ontwikkelingswerkgroep is, gaan ook steun werf vir die implementering van die sogenaamde volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in Afrika en ontwikkelende streke en lande.

Dit sluit in die bekamping van die onwettige uitvloei van geld wat Afrika van hulpbronne ontneem wat andersins vir ontwikkeling gebruik kon word.

Ramaphosa gaan ook die BRICS-vergadering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) bywoon. Brasilië is die voorsitter van dié vergadering.

Ook op Ramaphosa se sakelys is ʼn byeenkoms van Afrika-leiers om die vasteland se prioriteite by die beraad te bespreek, ʼn vergadering tussen Chinese en Afrika‑leiers, asook ʼn ontmoeting met Japanse sakeleiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

… ‘n vergadering tussen Sjinese- en Afrika-leiers (bedoelende Cyril)… So, dit is die eintlike plan van aksie vir die duur besoek deur die vier musketiers. Sekerklik is daar ‘n stop-over op Dubai… mens het soms ‘n kleedkamer nodig… jy weet?

BMW ·

Wonder wat die lot nou weer daar gaan lieg en bedrieg en huur Seker weer ‘n Air Force One om daar te kom.

jakes ·

CR sal moet bontstaan om te verduidelik wanneer SA die reuse lenings gaan terugbetaal wat hy moes leen om SA uit die moeilikheid te hou.

marous ·

Miskien vlieg hulle met SAL en elkeen kry ‘n tang en stuk draad ipv ‘n kombersie en oog klappies .

fred ·

hulle gaan seker weer om geld bedel??,wat gaan ons weer weggee aan die sjinese en russe….derde wêreld land…bakhand

Jimmy ·

Hy gaan ook sy nuwe mega stad bemark. Dit sluit in spoedtreine, toringgeboue, omgewingsvriendelik, 4IR en superstadions.

Andreas ·

Wat werkskepping aan betref het Cyril mos in antwoord op die partye se kritiek op sy staatsrede gister gesê hulle, die ANC, glo die groot werkskepper moet nie die privaat sektor wees nie, maar die staat moet dit dryf en dit moet deur die staatsentiteite geskied. So is hulle nou volstoom aan die gang om beleggings te trek?

Pierre ·

As ek dit reg het is dit die G20 gebaseer op die 20 grootste ekonomieë. SA is 36 op die lys volgens bruto nasionale inkomste. Dit is jammer dat jare gelede was ons as volk wel een van die G20 lande was ons onwelkom nou dat ons daar gaan bakhand staan is ons meer as welkom.
Die stert het die kop geword en die kop die sert.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.