Rampbestuurwet: DA gaan nie lê ná hofuitspraak

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die DA gaan voortgaan met sy pogings om die grondwetlikheid van die Wet op Rampbestuur te betwis.

Die Konstitusionele Hof het Woensdag die party se aansoek in dié verband van die hand gewys. Die hof het beslis dat dit in dié stadium nie in die belang van geregtigheid is om die DA se saak aan te hoor nie.

“Dit beteken ons sal nou maar stadig deur die hofprosesse moet gaan om dié saak met duidelike en dringende grondwetlike implikasies te betwis.

“Die hof se beslissing het ons wel nou een stappie teruggesit, maar dit sal ons beslis nie afskrik nie, al moet ons ʼn langer roete neem,” het die DA-leier, John Steenhuisen, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die DA voer aan die Rampbestuurwet plaas te veel mag in die hande van Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Dié opposisieparty redeneer ook die wet is ongrondwetlik. “Met die wet kan daar nie meer tussen die wetgewende en uitvoerende funksies van die staat onderskei word nie.”

Steenhuisen meen Suid-Afrikaners het reeds baie van hul grondwetlike regte prysgegee met die afsonderingsregulasies wat deur pres. Cyril Ramaphosa ingestel is. “Dit het veroorsaak dat Dlamini-Zuma te veel mag oor burgers verkry het.

“Die DA het besluit om direk die Konstitusionele Hof te nader om juis dringend die kwessie na vore te bring en om eens en vir altyd uit te klaar of die Rampbestuurwet wel aan die Grondwet voldoen,” sê Steenhuisen.

Die hooggeregshof in Pretoria het vroeër beslis die meerderheid van die huidige vlak 3-regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur moet tersyde gestel word omdat dit ongrondwetlik is. Dlamini-Zuma het 14 dae om die regulasies aan te pas, maar sy het aansoek gedoen om teen die uitspraak te appelleer.

Dlamini-Zuma het toestemming gekry om teen die beslissing te appelleer. Sy is egter beveel om van die vlak 3-regulasies te wysig en moet dit binne tien dae doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.