Regeringsbeampte steel glo by weduwee

geld 4 kontant rand

(Argieffoto)

ʼn 46-jarige regeringsbeampte het Dinsdag in die Mhala-landdroshof in Mpumalanga verskyn op aanklag van diefstal. Hy het glo sy oorlede neef se weduwee se geld gesteel.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die regeringsbeampte, Dingani Johnson Ngwenyama, het na bewering ʼn enkelbedrag geld, wat eintlik bedoel was vir sy neef se weduwee en haar kinders, in sy bankrekening oorbetaal. Ngwenyama se neef is reeds in 2007 dood.

“Ngwenyama het ná sy neef se dood glo vrywillig aangebied om sy weduwee te help om haar man se boedelgeld te eis en dit by ʼn versekeringsmaatskappy te belê. Die weduwee het ingestem om dit te doen,” sê Hlathi.

Hlathi sê die beweerde diefstal het aan die lig gekom toe die weduwee die versekeringsmaatskappy kontak om te hoor wanneer hulle vir haar die geld gaan uitbetaal. Die maatskappy het haar toe verwittig dat daar geen belegging namens haar gemaak is nie. Die maatskappy het haar aangeraai om haar bank te kontak.

“Die bank het vir die weduwee gesê ʼn bedrag geld van ongeveer R370 000 is glo in Ngwenyama se persoonlike bankrekening oorbetaal,” vertel Hlathi.

Hlathi sê die weduwee het dit dadelik by die polisie aangemeld en ʼn saak van diefstal is teen Ngwenyama oopgemaak. Ngwenyama is Maandag in hegtenis geneem.

Ngwenyama is Dinsdag borgtog van R10 000 toegestaan. Hy sal na verwagting weer op 31 Augustus in die hof verskyn.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, sê hy is geskok oor die aantygings teen Ngwenyama. “Wat met die weduwee gebeur het, is hartverskeurend. Ons versoek families sowel as lede van die gemeenskap om nie weerloses om die bos te lei nie,” sê Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Scalla ·

Skelm, die neef moes dus die belegging in sy eie naam gemaak het aangesien fonds nie in n derde party se rekening inbetaal mag word nie, so draai die wiel.

JohanR ·

Moral of the story…..never ask an ANC official for help, and if an ANC official offers help, violently refuse said help!

Jakes ·

Nee wat, ek is glad nie verbaas nie. Diefstal word nie as n misdaad deur sommige mense beskou nie.

Cherokee ·

Dom diefstal, daar is geen manier waarop hy nie uitgevang sou word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.