Regspraktisynsraad gekap oor prok wat kinders glo bedrieg

Deur Tania Broughton, GroundUp

hof, mikrofoon, justisie

(Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

’n Span prokureurs wat namens slagoffers optree wat glo deur die prokureur Zuko Nonxuba ingedoen is, het ’n hofbevel verkry wat die Regspraktisynsraad (RPR) streng tydlyne gee om sy ondersoeke na die beweerde plundering van trustgeld ten bedrae van sowat R348 miljoen af te handel en om enige bewese eise uit te betaal.

Onder die slagoffers is tientalle kinders met serebrale gestremdheid wie se ouers en voogde die departement van gesondheid, via Nonxuba se firma, vir mediese nalatigheid gedagvaar het. Die departement het miljoene rand in die firma se trustrekening inbetaal, wat na bewering deur Nonxuba gesteel is.

Hy is in 2019 in hegtenis geneem en aangekla, en is intussen uit die praktyk geskors.

Prokureurs van Andraos & Hatchett Inc, bygestaan ​​deur advokate Nazeer Cassim (SC) en Mohammed Desai, het ’n dringende aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof teen die Regspraktisynsraad en die Getrouheidsfonds vir Regspraktisyns gebring om die slagoffers by te staan.

’n Skikkingsooreenkoms met die Regspraktisynsraad plaas nou groot druk op dié raad om die saak vinnig af te handel.

In hul betooghoofde, wat voor regter Ingrid Opperman gedien het, het die groep onder meer aangevoer dat Nonxuba as prokureur die “gruwelikste dade gepleeg het” deur minderjarige kinders met gestremdhede te teiken.

“Dit is dus gepas dat die regslui die kwaadwillige dade van een van sy eie regstel.”

Tans tree die regspan op vir twee voogde van twee kinders. Maar daar is glo meer as 30 eisers.

Een kind se lot is onlangs op die ondersoekende televisieprogram Carte Blanche uitgelig. Dié kind was erg ondervoed en is met bedsere in ’n hospitaal opgeneem.  Die regspan het gesê die aansoek is gebring om te verseker dat dieselfde lot nie ander kinders tref nie.

In hul hoofbetoë het die prokureurs verder aangevoer dat die raad skandelik versuim het om teen Nonxuba op te tree.

“Die feite skets ’n droewige prentjie. Van 2013 tot 2014, nadat die raad wel bewus was van die verskeie klagtes, het hy geen stappe teen Nonxuba gedoen nie.

“Eers op 13 Julie 2019, nadat die LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap ’n aansoek teen die Regspraktisynsraad gebring het om Nonxuba te ondersoek, het die raad met stappe begin.

Die span sê die meeste van die sake het ná 2015 opgeduik ​​en as die raad, of ​​die Prokureursorde (soos dit destyds bekend was), met ’n mate van dringendheid opgetree het, kon hierdie kinders dalk van die (beweerde) wangedrag van Nonxuba gered gewees het.

Dit was eers in 2022, en eers ná hofverrigtinge, dat die raad ’n kurator aangestel het om die Nonxuba Inc-trustrekening te hanteer.

Dié bevel het bepaal dat die raad die ander slagoffers opspoor en ’n liggaam van skuldeisers saamstel, terwyl daar aanvaar was dat ’n bedrag van sowat R100 miljoen nog in die rekening was.

“Tot op hede is die raad nie in staat om enige volledigheid of doeltreffendheid rakende hierdie taak te demonstreer nie,” het hulle gesê.

In Augustus 2013 het die raad die kinders se voogde en ouers opdrag gegee om die Getrouheidsfonds te nader.

Maar hoewel eise ingedien is, is dit nie geëvalueer nie, en die Getrouheidsfonds het geen tussentydse betalings gemaak nie – ’n bewys dat dit versuim het om die grondwetlik verskanste regte van kinders te oorweeg.

“Dit is onbetwiste feit in hierdie aangeleentheid dat alle aansoekers uit landelike gebiede kom met min of geen toegang nie tot howe. Die ware aansoekers is kinders wat nie in staat is om hulself te verteenwoordig nie.”

Die raad het, deur aanvanklik die aansoek teen te staan, aangevoer dat dit reeds in oorleg met ondersoekers van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), die polisie, die Valke en ander entiteite besig was om ’n volledige en finale lys van trustkrediteure saam te stel, maar aangevoer dit is ʼn “ingewikkelde taak”.

Die regspan het egter gesê dit kom daarop neer dat die raad van sy verantwoordelikheid afstand gedoen het om sy eie hulpbronne te bespaar.

Die nuwe ooreenkoms sit ’n implementeringsplan uiteen met tydlyne wat advertensies op plaaslike radio- en televisiestasies insluit om potensiële trustkrediteure uit te nooi om die raad se kantore te kontak om dokumente te verskaf wat hul eise staaf.

Dit gelas ook die onmiddellike opsporing van ander moontlike slagoffers met die hulp van die SOE.

In die geval dat daar nie genoeg geld is om die volle bedrae van geverifieerde eise te betaal nie, moet die Getrouheidsfonds die R100 miljoen op ’n pro rata-grondslag uitdeel en dit oorweeg om die tekort aan te vul.

 

Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Money is the route of alllll evel!!! Daar is bitter min mense wat hulle hande tuis kan hou was miljoene ter sprake is.

Karoo ·

Ek is dankbaar dat daar stappe geneem word, mense is onder baje druk, ouers beplan…en dan kom iemand wat jy moes veteou, en betaal en bedeieg juis die wie jy wou en moes beskerm.

Alta Alleman ·

Daai ma van die kind wat in die hospitaal opgeneem is vir wanvoeding moet ondersoek word.

Wiehan ·

Die Raad het nie sy werk gedoen nie, hulle moet pa staan vir die geld wat verloor is, as hulle betysds opgetree het, so die geld nog daar gewees het.

Marous ·

Die geld kom uit die belasting betaler se sakke uit. Dit moet persoonlik verhaal word van diegene wat vir die eise verantwoordelik was . As hy skuldig bevind word moet hy lewenslank sit .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.