Res van SANW-reserwemag op gereedheidsbasis geplaas

Lede van die polisie en weermag op patrollie in Mitchells Plain in die Wes-Kaap tydens die afsonderingstydperk. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Sekere eenhede en lede van die reserwemag word op gereedheidsgrondslag geplaas om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) tydens die Covid-19-pandemie by te staan.

Dít volg nadat talle lede van die reserwemag vroeër opgeroep en ontplooi is om die SANW en Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) tydens die algehele landwye afsondering by te staan. Die departement van verdediging en militêre veterane het ook Woensdag bevestig dat sowat 73 000 weermaglede bykomend in Suid-Afrika ontplooi gaan word om die regulasies van algehele afsondering te help afdwing.

Genl.maj. RC Andersen, woordvoerder van die SANW, sê in ’n verklaring lede van die reserwemag wat nog nie opgeroep is nie, word nou gevra om hul eenhede te kontak om te bevestig of hulle beskikbaar sal wees vir ontplooiing. Beskikbare lede sal dan opgeroep word sodra hulle benodig word, het Andersen gesê.

“Lede van die reserwemag wat nog nie opgeroep is nie en oor spesialisvaardighede beskik, word versoek om die kantoor van die reserwemag in hul provinsies te kontak om hul diens aan te bied,” het Andersen gesê.

Lede met spesialisvaardighede sluit in gesondheidsorgpraktisyns, veral verpleegkundiges en dokters, gekwalifiseerde sjefs, gekwalifiseerde ingenieurs, ervare vlieëniers en gekwalifiseerde naaldwerksters.

“Die departement van verdediging wil die lede van die reserwemag bedank vir hul bereidwilligheid om te dien en vir die belangrike bydrae wat hulle lewer,” het Andersen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carina ·

As die weermag en reserwe mag lede ter elfder ure ontplooi word, sien ek nie hoe hierdie inperking baie gou gaan gelig word nie. Klink my hulle maak gereed vir nog ‘n baie lang tyd van inperking.
Dit gaan ons land se ekonomie doodmaak. Ek sê maak die dorpe waar daar geen gevalle is nie, oop sodat die mense kan terugkeer werk toe. Maar jy mag net binne jou dorp bly en werk. Ons sien al reeds plundering ensomeer, dit gaan net vererger hoe langer die mense ingehok word.
Sterkte aan almal, bly veilig.

ZeldA ·

Ongelukkig werk dit nie met dorpies nie. Ons bly op n klein dorpie en is afhanklik van aankope in die dopre om ons.. Hul moet eerder dan provinsies toemaak.

Michael 1 ·

Ek stem saam Carina veral as in ag geneem word dat hulle president weer sy mense toespreek vanaand.

Die Wolf ·

Kwalifiseer sy mense asb. Eerder Afrikane of is dit Suid Afrikaners? Ek is niks van hom nie.

Termiet ·

Die virus speel reg in die anc se hande. Hulle gebruik dit nou om van SA ‘n kommunniste staat te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.