Rommel oral, maar gʼn vullisterrein vir Burgersfort

Die naaste vullisterrein is sowat 100 km ver wat beteken mense stort hul rommel onwettig, selfs in die woonbuurt. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Aloe Ridge West op Burgersfort in Limpopo spring deesdae self in om onwettige stortingsterreine wat die afgelope ruk oral opskiet, op te ruim.

Die dorp se vullisterrein is in 2018 gesluit en indien inwoners wettig van hul rommel ontslae wil raak, moet hulle sowat 100 km na die stortingsterrein naby Apel aflê. Die pad daarheen is glo in ʼn beroerde toestand en die rit daarheen kan meer as twee uur lank duur.

Dít terwyl die grond vir ʼn nuwe stortingsterrein reeds beskikbaar gestel is, maar deur plakkers oorgeneem word.

“Mense stort dus hul rommel op enige oop plek wat hulle kan vind – en een van daai stortingsterreine is reg voor my huis,” sê Samuel Masite Maepe, ʼn inwoner van Aloe Ridge West.

Hy het maande gelede al foto’s van die probleem aan die Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit gestuur, maar Maepe sê sy pleidooie aan die burgemeester om die probleem te pak het tot dusver op dowe ore geval.

Charmaine Oosthuizen van die VF Plus en Samuel Masite Maepe. Hy sê die party het kom help toe niemand anders wou nie. (Foto: VF Plus)

“Mense van die VF Plus het my kom help om die gemors op te ruim. Hulle help terwyl niemand anders iets doen nie. Húlle help, nie die ander nie,” sê hy.

“Ons het gister skoongemaak. As ek vanmiddag van die werk af kom, sal ek weer rommel daar vind.”

Maepe sê die onwettige stortingsterreine word nou boonop ʼn skuilplek vir boosdoeners.

Charmaine Oosthuizen, ʼn plaaslike VF Plus-raadslid, het met haar bakkie gekom en Maepe gehelp om die gebied skoon te maak en die rommel weg te ry.

Oosthuizen sê ʼn groep vrywilligers het opgeruk om saam te help opruim.

“Die VF Plus gaan met die munisipaliteit se departement vir korporatiewe dienste en die munisipale bestuurder, Walter Phala, beraadslaag om ʼn stortingsterrein nader aan die gemeenskap van Burgersfort aan te lê.”

Sakke vol rommel word uit die buurt weggery. (Foto: VF Plus)

Luidens dokumente op die munisipaliteit se webwerf, is ʼn lisensie vir die voorgestelde ontwikkeling van ʼn nuwe stortingsterrein vir Burgersfort reeds in Maart vanjaar goedgekeur.

Die grond is glo reeds beskikbaar, maar dit word na verneem word nou toenemend deur onwettige plakkers oorgeneem. Dit is ook onduidelik wanneer die ontwikkeling van die terrein na verwagting sal begin.

Maroela Media het ʼn navraag aan die Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit gestuur oor vordering met die beoogde nuwe stortingsterrein. Die plaaslike owerheid se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Madeleine ·

Selfde in waterval boven!!

Tip: kyk na her winning vd afval

mynie ·

Stort maar die vullis in die plakkerskamp waar die terrein veronderstel is om te wees…..

annie ·

Dit is hoekom swart woongebiede so lyk… En nou die gelykmakende wendoel: Die eens skoon dorpe lyk ook so. Gelukkig is daar darem nog ‘n paar witmense in die land oor om vir die swartes te werk… gratis. Waarheen gaan die bakkie met rommel? Na ‘n ‘netjiese rommelhoop waar dit deursoek word vir skatte en herwinning plaasvind?

Kobus ·

Al was / is daar ‘n stortingsterrein, dit word nie gebruik nie

Jacobus ·

Se ek ook. Gaan stort daai vullis in die plakkerskamp waar die stortingsterrein moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.