Rowers teiken glo begrafnisondernemers

Argieffoto (Foto: Lisa Yount/Pixabay)

Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in ná rooftogte by begrafnisondernemers in Nelspruit en omgewing.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê in al die gevalle is geld gesteel. Die jongste voorval was Vrydag in Kwabokweni.

“ʼn Ondersoek het onthul die eerste begrafnisondernemer is op 30 Junie in Nelspruit se middestad beroof deur twee gewapende verdagtes,” het Hlathi verduidelik. “Die verdagtes het ʼn administrasieklerk oorval wat alleen besig was met haar normale pligte. Hulle het haar met ʼn vuurwapen gedreig en geld geëis. Ná sy die geld oorhandig het, het hulle haar vasgebind en van die toneel gevlug.”

Veiligheidsbeamptes, wat die sentrum patrolleer, het op haar afgekom en haar bevry. Hulle het dadelik die polisie ontbied.

“Die tweede voorval het op 1 Julie, ook in Nelspruit, plaasgevind. In hierdie geval was dit weer twee gewapende verdagtes wat die perseel betree en ʼn administrasieklerk oorval het wat besig was om twee kliënte te help. Hulle het haar en die kliënte met vuurwapens gedreig en geld geëis wat aan die onderneming en die kliënte behoort.”

Voor die verdagtes van die toneel gevlug het, het hulle die slagoffers agter in die perseel toegesluit. “Hulle kon hulself bevry en die polisie ontbied,” het Hlathi gesê.

In die jongste geval, op 3 Julie in Kabokweni, was personeellede aan diens toe twee mans hulle onder valse voorwendsel voorgedoen het as kliënte. “Die persone het gemaak of hulle belangstel in begrafnispolisse. Terwyl die personeel besig was om hulle te verduidelik hoe dit werk, het hulle skielik vuurwapens te voorskyn gebring en geld geëis. Die personeellede is in ʼn stoorkamer toegesluit en die verdagtes het gevlug.”

Hlathi het gesê dit is kommerwekkend dat dit wil voorkom of misdadigers begrafnisondernemers teiken, aangesien die drie voorvalle binne ʼn week plaasgevind het.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het begrafnisondernemers versoek om hul veiligheidsmaatreëls op te skerp wanneer hulle geld hanteer of geld van kliënte ontvang. Hy maan ook die gemeenskap om die polisie by te staan in hul ondersoek. Enigiemand met inligting kan kol. Lisa Sambo kontak by 082 462 2748.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Begrafnis ondernemers maak vreeslik baie geld want dit is verseker, baie mense gaan dood. Hartseer om te sien wat in die land aangaan.

Pierreli ·

Niks is meer verstommmend nie. Selfs mense op ongeluks tonele word beroof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.