Rugby: Meer as net blote sport vir die Meyer-gesin

‘n Gesinsfoto van Sias, Linda, SJ en Nicola Meyer. Foto: Verskaf deur Sias Meyer.

“Rugby en rugbyspelers het my gehelp om sy mediese onkostes te dek. En hom te bring waar hy vandag is, waarop ek ongelooflik trots is. Rugby het dit vir my moontlik gemaak.”

So vertel Sias Meyer (56), ’n pa wat begin het om R5-lootjies van getekende sport memorabilia te verkoop tot waar hy vandag op alle markte tuis is vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Meyer is verantwoordelikheid vir die finale afronding van die Springboktruie, die diens van skrummasjiene, en selfs wanneer die nood daar is, is hy ’n koerier vir SA Rugby.

Sias en Linda Meyer is die ouers van die 25-jarige SJ en 21-jarige Nicola Meyer. Stargardts, ook bekend as makulêre degenerasie, is in 2002 by die 7-jarige SJ gediagnoseer.

“Dis basies tonnelvisie, net omgekeer.” verduidelik SJ voordat hy byvoeg: “Ek kan alles sien wat julle sien, ek moet dit net van nege keer nader sien.”

Ná verskeie besoeke aan dokters in Suid-Afrika moes Sias en Linda herhaaldelik hoor hulle seun gaan blind word. Vasbeslote dat SJ nie blind gaan word nie, het hulle ’n dokter in Amerika, wat in Stargardts spesialiseer, besoek.

“Met die eerste besoek in Amerika het ons besef ons gaan nie uit twee korporatiewe werke genoeg geld genereer om sy mediese onkostes te dek nie. In Suid-Afrika kyk die medies nie na Stargardts nie,” vertel Sias.

“Ek het besef ons is ’n sportmal nasie en ek gaan begin met sport-memorabilia waar ek allerhande sportverwante dinge kry en laat teken, wat ek dan aan skole en veilings voorsien. So het dit stelselmatig begin – destyds met ’n All Black-kep geteken deur Sean Fitzpatrick. Ek het begin deur by winkels te sit en R5-looitjies te verkoop.”

“Ons moes SJ elke 18 na 24 maande in Amerika hê.”

Sias Meyer besig met die Sewestoernooi-wimpels (pennants). Foto: Verskaf.

“In ongeveer 2005 het ek vir ’n ou in SA Rugby begin help om goed rond te ry. Ek het dit verniet gedoen en geglo êrens sal iets gebeur.”

“In 2007 het dieselfde ou vir my gesê hy is in die moeilikheid. Canterbury Suid-Afrika is bankrot en hy het iemand nodig wat die handelsmerk op die Springboktruie kan doen, want daai naweek moet die Sewesspan na ’n toernooi vlieg. Sonder om enige iets daarvan te weet, sê ek vir hom ek sal dit vir hom doen.”

Vandag, meer as 16 jaar later, het Sias al meer as 150 toetswedstryde se Springboktruie vir SA Rugby hanteer.

“Ek doen byna alle afdelings vir SA Rugby. Van die SA Skole-span, akademiese-spanne, Junior Springbokke, Sewes en Springbokke en ook die vrouespan.”

Hierdie jaar se Sewestoernooi wat van 13 tot 15 Desember, sy Suid-Afrikaanse been in Kaapstad gehou het, was ook geen uitsondering nie. Sias is verantwoordelik om die handelsmerke vir die plaaslike- en besoekende spanne se truie op te sit. Buiten vir die klere voorsien hy ook die seremoniële keppe en wimpels, beter bekend as pennants, aan die onderskeie spanne.

Die volhardingsvermoë en wysheid van beide Sias en Linda skemer duidelik deur in die lewe van hul kinders.

Hoewel SJ op ’n daaglikse basis met sy sig-uitdagings moet saamleef, is daar min dinge wat dié 25-jarige tot stilstand bring.

Soos hy dit stel: “Daar is niks wat ek nou het wat my terughou om nie te doen wat ek graag wil doen nie. Daai mentaliteit is nooit by my grootgemaak nie.”

Hy verwys spesifiek na sy pa. “As ek wou rugby speel het hy my laat rugby speel. As ek fiets wou ry het hy my laat fiets ry. As ek besluit het om na ’n hoofstroomskool te gaan, was dit reg.”

“My ma kan enige iets reg bid,” sê die Meyer-kinders. Sias saam met sy vrou Linda. Foto: Verskaf.

SJ het in 2007 ook bysiende geraak.

“Ek het ’n bysiende bril wat ek dra wanneer ek gaan fliek. En kontaklense net wanneer ek fiets gaan ry of netbal of rugby speel.” Maar die bril vir bysiende maak (weens sy Stargardts-siekte) “alles wat ver is net nóg verder. Jy leer om daarmee te leef.”

Hy speel vir sy werk se raakrugby-span (Touchies), maar moes onlangs onttrek nadat hy langs die veld in ’n afvoersloot getrap en sy knie beseer het.

Hy speel ook aksienetbal saam met sy suster. Hy beklee die posisie van hoofdoel. Nicola, wat oor ’n WP Netbal-titel beskik, vertel al wat hulle doen, is om ’n wit handdoek agter die ring te sit sodat hy kan sien in watter rigting hy moet gooi.

“En hý gooi alles in. Ek probeer so hard” sê Nicola laggend.

Op laer- en hoërskool het hy rugby en krieket gespeel. Hy kon nie kolf nie, maar kon boulwerk doen. SJ kon nie sien waar sy opponent staan nie, maar dan sou die paaltjiewagter help deur sy arm langs hom uit te hou en wanneer die kolwer reg is weer te laat sak. Hy moes ook gereeld die paaltjiewagter vra of die kolwer links of regs is.

Sy suster val hom in die rede: “Dan vat hy paaltjies!”

Wanneer jy vir SJ en Nicola vra wat hul ouers vir hulle beteken, lag hulle en vra hoeveel tyd het ons.

“My ma was altyd die een wat my gehelp het wanneer ek op skool gesukkel het. Sy is die rede hoekom ek ’n A in wiskunde gekry het. Sy het al my graad 11- en 12- voorgeskrewe boeke gelees en opgeneem sodat ek daarna kon luister. Sy het vraestelle in donker letters vir my oorgeskryf om my te help lees,” vertel SJ.

“My ma kon altyd sien wanneer ek sukkel en dan het sy vir my raad gegee of net geluister.”

Hy vertel sy pa was altyd die een wat hom aangespoor het om te doen wat nodig was om te doen. Hy het altyd gesê, “Jy kan”.

“Al twee my ouers het my net toegelaat om kind te wees.”

Nicola, wat ook nog voor die moontlikheid staan om voor die ouderdom van 25 Stargardts te kry, sê: “Niks was ooit te veel gevra nie, niks was ooit ’n probleem nie. Hulle net gesê ons sal dit uitwerk.”

“My ma kan enige iets reg bid,” voeg sy by.

Alles was nie altyd net eenvoudig gewees nie.

SJ by sy dokter in Amerika in 2007. Foto: Verskaf deur Sias Meyer.

SJ vertel: “Op laerskool het dit my die meeste gepla. Jy vind dan jou vriendekringe. Ek het myself onttrek. Ek het pouses in die klas gebly. As ek nou terugkyk, was dit dom gewees. Dit het dit vir my moeiliker gemaak om later vriendskappe te vorm.”

Ten spyte hiervan kan SJ die effek wat ander mense op sy lewe gehad het, duidelik raaksien.

“Tussen my suster en my neef het ek seker die twee grootste vriende wat ek het. Maar daar is soveel mense wat my toelaat om te wees wie ek wil wees.”

“My kollegas by die werk en vriende hanteer my soos enige ander persoon. My vriende op skool het die werk op die bord vir my afgeskryf. Hulle het my help leer.”

Hy vertel van die oom wat hom met skeinat in matriek gehelp het en saam met wie hy ook twee keer die Kaapstad (Argus)-fietstoer gery het.

SJ wat tans ’n IT-spesialis is, glo daar is nog baie wat hy wil en gaan doen. Die vooruitsigte dat sy sig beter gaan word, is skraal, maar daar wink ’n moontlike operasie in die verre toekoms. In die stadium kan sy sig nie verbeter nie, maar ook nie vererger nie en blyk dit ook dat niks wat kan gebeur, hom gaan ontwrig om voluit te lewe nie.

Hy meen: “Dit (Stargardts) was nooit vir my ’n probleem gewees nie. Ek was sewe jaar toe ek dit gekry het. Ek kon steeds hoor, so who cares?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae