Rugby vind weer sy stem op die draadloos

Simon Riekert en Johan Pretorius tydens die All Blacks-toets op die Mbombela-stadion. Foto: Verskaf.

 Johan Pretorius en Simon Riekert is lief vir Afrikaans, die draadloos en vir rugby. En deesdae glimlag hulle ongetwyfeld van oor tot oor.

Die twee het immers onlangs ʼn ooreenkoms met Groot FM aangegaan om alle rugby op hul app uit te saai.  Hul stemme en rugbykennis het onder meer gesorg dat die Springbokke se jaareindtoetse en die SA A-span se wedstryde weer hul regmatige klankgolftuiste gevind het.

“Ons het ons eie kanaal – as jy wil – op Groot FM se app waar mense wat nie na die wedstryd kan kyk nie, regstreeks ons kommentaar kan volg; net soos wat dit sou gewees het om na die draadloos te luister,” sê Pretorius.

Ja, dit is lekker om te sien hoe Kurt-Lee Arendse vir Marcus Smith flous of hoe Eben Etzebeth sy teenstander platduik, maar wie sal ooit Gerhard “Spiekeries” Viviers se opgewonde krete van “Sydie, Sydie!” vergeet toe Syd Nomis sy onderskepdrie teen die All Blacks in 1970 gedruk het?

Rugby en radiowerk is eintlik soos korrekte spelling en die HAT, of Eskom en beurtkrag: Dit loop altyd saam.

Benewens hul Groot FM-pligte saai hulle sedert die begin van die jaar al die Pumas se Curriebekerwedstryde vir Radio Laeveld uit, terwyl hul heel eerste amptelike Springboktoets agter die mikrofoon – nogal teen die All Blacks op die Mbombela-stadion – ook ʼn reusehoogtepunt was.

“Die aanloop tot daardie toetsuitsending was soos ʼn droom. Ek sal nie sommer die afwagting en die nimmereindigende voorbereidingswerk vergeet nie; om dan nie eens van die akkreditasie-reëlings te praat nie,” sê Riekert.

“Vir SA Rugby was dit ʼn nuutjie. Niemand saai meer rugby op die radio in Afrikaans uit nie en hier vra twee manne toestemming om ʼn All Blacks-toets regsteeks vanaf die pawiljoen uit te saai!”

Hulle het onder meer skouers met Grant Nisbett (bekende Nieu-Seelandse kommentator) geskuur, terwyl twee voormalige All Blacks – Justin Marshall en Jeff Wilson – ook deel van die aksie was.

Riekert en Pretorius saam met Jeff Wilson, Justin Marshall en Grant Nisbett. Foto: Verskaf.

Marshall het later geskerts dat ʼn foto een van die min kere is dat ʼn mens radiokommentators se gesigte ook kan sien.

Volgens Pretorius het hulle die Bokke se vier jaareindtoetse vanuit ʼn ateljee uitgesaai. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat hul blinkgepoetse trots- en dankbaarheidsbeker enige van sy glans verloor het nie.

Maar was dit nie moeilik om skielik ʼn spul Franse name baas te raak nie – die Springbokke se tweede toerwedstryd was immers teen Frankryk in Marseille?

“Dit was inderdaad ʼn massiewe uitdaging. Ons het al te lekker in die aanloop tot die toets met mekaar die spot gedryf – ons het byvoorbeeld met mekaar in Frans op WhatsApp gekommunikeer, terwyl ons ook die luisteraars in Frans welkom geheet het.”

“In die geheel was ons baie tevrede met ons uitspraak van die name en vanne. Gelukkig leer ʼn mens ook uit jou foute!”

Riekert vertel dat daar darem ook tyd vir lekker lag was.

“Hier teen die einde van die toets het ek ʼn lekker boe-boe met ʼn plaasvervanger se naam gemaak. Ek kan ongelukkig nie nou die naam wat ek uitgespreek het herhaal nie; daar is immers iets soos sensorskap.”

Net vóór die Curriebekereindstryd tussen die Pumas en Griekwas. Foto: Verskaf.

Tog is hulle twee kunstenaars wat die rugbybeeld in die fynste detail vir die luisteraar kan skets. Pretorius doen sy werk as ankerkommentator met die nodige geesdrif, terwyl Riekert vir die ontleding sorg.

“Ons het ook onlangs vir Eduan Truter aangestel om ons in die nuwe jaar by te staan. Hy gaan onder meer betrokke wees by RadioRugby se weeklikse rugbynuus, wat ons vir vyf radiostasies behartig.”

Die twee is ongelooflik trots om hul uitsaaiwerk in Afrikaans te doen.

“Ons werk hard om die standaard van ons Afrikaans-kommentaar op die hoogste vlak te hou omdat ons soveel respek vir die taal en kommentatorswerk het.”

Hulle is ook besig om die onmoontlike te vermag – om Afrikaanse raakvatbeskrywings vir rugbyterme te vind.

Pypkan en skopkelkie is immers baie lekkerder op die tong as side step en kicking tee.

Vergeet dus vir eers van die vorige Eskom en beurtkrag-vergelyking: Johan Pretorius en Simon Riekert loop die beste saam met radiorugbykommentaar in Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Dit is nou goeie nuus, nadat politiek die Afrikaanse radio uitsendings op RSG gekaap het. Doen so voort GrootFM.

Leon ·

Die sport verdien nerens plwk in SA nie
Die geetrui man van Outsurance if Marriot bepaal die uitslag vra vir Rassie dis n feit !!!!!!

Wildemien ·

Lekker! Nou kom ek net ‘n transistor radio’tjie kort sodat ek kan luister tydens beurtkrag.

Oppiestoep ·

Absoluut fantasties!! Manne wat nóg n wil het om die (al 44 van ons) “taal-trots” uit te leef. Wel gedaan en ‘n pluimpie vir Groot FM ook. Doen so voort.

Anje ·

Dankie vir die informasie. Hier in kzn het ek nie eers geweet van GrootFM nie. Ek het die app nou afgelaai. Viva Afrikaans!!!!

Tania ·

Baie baie goeie nuus! Onthou dat blinde persone nie werklik die kommentaar op tv kan volg nie, hulle gee hopeloos te min inligting tydens ‘n wedstryd. Dankie GROOT FM ons het lank baklei dat RSG dit weer moes uitsaai, mag júlle van krag tot krag gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.