Ryk Neethling se suster Elsje oorlede

Elsje Neethling (Foto: ElsjeNeethlingFull/Instagram)

Elsje Neethling, die bekende swemmer Ryk Neethling se suster, is Saterdagaand oorlede.

Jean-Marié Neethling Stander, Ryk se jongste sussie, het die nuus op Instagram bevestig.

“Ons mooi dogter en suster, Elsje, is gisteraand vreedsaam in Hermanus oorlede,” het Jean-Marié geskryf. “Sy het tot die einde gestry soos wat net Elsje kon, maar sy is nou in ʼn beter plek sonder die pyn en lyding wat sy 30 jaar lank verduur het, veral die afgelope twee jaar.”

Die familie het versoek dat hul privaatheid vir die volgende paar dae gerespekteer sal word.

“Elsh, jy het nie jou stryd teen kanker verloor nie. Jy het die wedren van die lewe gewen deur onverpoosd te bly baklei met ʼn glimlag op jou gesig elke dag van jou lewe. Jy het gewen; nou kan jy rus. Mis jou alreeds só ongelooflik baie.”

Elsje het onlangs haar 43ste verjaarsdag gevier. Sy was 13 jaar oud toe breinkanker vir die eerste keer by haar gediagnoseer is.

Sangeres Amanda Strydom, het haar meegevoel in ‘n plasing op Facebook betuig. “Rus in pynlose vrede, my liefste Elsje-peetkind. Jy was ‘n inspirasie vir my en sovele – jy het nooit, nooit gekla nie. Jy was slim, sterk, kunstig, kreatief en snaaks. Jy was lig en kleur en vreugde, jy was dapper tot die einde. Ek gaan jou boodskappe en oproepe mis. Ek gaan jou nooit, nooit vergeet nie. My liefde en troos aan San-Marie, Ryk, Rykie en Jean-Marié, CJ, klein Everli, Marietjie Muijs Neethling, haar familie en almal wat haar so liefgehad het.”

Elsje het in Oktober die volgende op Facebook gedeel: “Ek het my jare getel en bevind dat ek minder tyd oor het as wat ek tot dusver geleef het. Ek voel soos ʼn kind wat ʼn pakkie lekkergoed gewen het: hy eet eers vol plesier, maar wanneer hy ontdek dat daar net min oor is, is dit nie meer só lekker nie. Ek het nie meer tyd vir eindelose vergaderings waar stature, reëls, prosedures en interne regulasies bespreek word nie – veral nie as niks daardeur bereik word nie. Ek het nie meer tyd om die absurde mense te ondersteun wat, ondanks hul chronologiese ouderdom, nog nie grootgeword het nie. My tyd is te kort: Ek wil die essensie hê, my siel is haastig. Ek het nie meer baie lekkergoed in my pakkie oor nie.

Elsje Neethling (links) en Jean-Marié Neethling Stander (Foto: JM Stander/Instagram)

“Ek wil langs mens-mense bly, wat weet hoe om vir hul foute te lag en wat nie opgeblaas word deur hul oorwinnings nie en wat hul verantwoordelikhede opneem. Op só manier word menswaardigheid verdedig, en ons beweeg na eerlikheid en waarheid. Dit is die essensie wat die lewe die moeite werd maak.

“Ek wil my omring met mense wat weet hoe om harte aan te raak; mense wat deur die moeilike dinge in die lewe geleer het om met ʼn sagmoedige aanraking van die siel te groei.

“Ja, ek is haastig. Ek is haastig om te leef met die intensiteit wat slegs volwassewording kan bring. Ek wil nie enige van die lekkertjies laat oorbly nie. Ek is seker dit gaan heerlik wees – selfs nog beter as wat ek reeds geëet het. My doelwit is om die einde te bereik – vol tevredenheid en in vrede met my geliefdes en my gewete. Ons het twee lewens en die tweede begin sodra jy besef jy het net een.”

“I counted my years and found that I have less time to live from here on than I have lived up to now.I feel like that…

Posted by Elsje Neethling Full on Tuesday, October 24, 2023

Aai my vriendin. Hoe stom is ek nou. Ek het nou op jou tannie, Amanda Strydom se Facebook inskrywing gesien van jou….

Posted by Brahm Van Wyk on Sunday, December 24, 2023

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.