Ryloper skiet drie mans dood

Foto: SA Police Service, Twitter

Die polisie op Ficksburg in die Vrystaat is Sondag omstreeks 19:30 na uitbreiding 11 in Meqheleng ontbied nadat hulle inligting oor ʼn skietery ontvang het.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê by hul aankoms is polisiebeamptes na ʼn wit Isuzu-bakkie met ʼn gebreekte ruit gelei.

“Twee mans, onderskeidelik 39 en 45 jaar oud, is met skietwonde in die voertuig aangetref. Die polisie het ook ʼn 30-jarige slagoffer langs die bakkie met ʼn skietwond aangetref. Hy het erg gebloei.

“Nooddienste is onmiddellik na die toneel ontbied, waarna die bestuurder en een van sy passasiers op die toneel dood verklaar is. Die man wat langs die bakkie gelê het, is dadelik na die hospitaal vir mediese behandeling gehaas. Hy is egter ook later weens die erns van sy beserings dood.”

Volgens Kareli het die drie oorledenes na bewering ʼn onbekende ryloper ʼn saamrygeleentheid gebied.

“Die verdagte het die venster gebreek en op die mans in die voertuig losgebrand. Hy het daarna van die toneel gevlug.

“Die polisie ondersoek drie sake van moord, hoewel niemand nog hegtenis geneem is nie.”

Enigiemand met inligting word versoek om die stasiebevelvoerder in Ficksburg, kol. Sephiwe Kunene, by 082 564 9684 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.