SA winkel beste whisky-handelaar ter wêreld

(Foto: Verskaf)

By wat kenners die “Oscars van Whisky” noem, is die Suid-Afrikaanse whisky-handelaar WhiskyBrother as kleinhandelaar van die jaar by Whisky Magazine se jaarlikse Icons of Whisky-toekennings in Londen bekroon.

ʼn Paneel kundiges beoordeel jaarliks die geleentheid waartydens internasionale bedryfsleiers, produsente, promotors en kleinhandelaars teen mekaar meeding.

ʼn Oorstelpte Marc Pendlebury, stigter en mede-eienaar van WhiskyBrother, het die toekenning as ʼn groot eer bestempel.

“Dit is moeilik om te dink dat alles in 2009 met ʼn eenvoudige whisky-blog en Twitter-rekening begin het. Ek wou my kennis van whisky verbreed en my ervarings met ander Suid-Afrikaanse whisky-liefhebbers deel.

“Nooit in my wildste drome het ek verwag dat die handelsmerk en onderneming tot die punt sou groei waar dit ʼn plek op die internasionale verhoog inneem en internasionale toekennings inpalm nie,” sê Pendlebury.

WhiskyBrother het teen kleinhandelaars van oor die wêreld, insluitend Skotland, die VSA, Ierland, Japan en Europa, vir die gesogte toekenning meegeding.

Die onderneming het sy deure in 2012 met een winkel in Hyde Park geopen en het mettertyd nog winkels in Bryanston en Bedfordview tot die portefeulje gevoeg.

WhiskyBrother is Johannesburg se eerste toegewyde whisky-kroeg met meer as 1 500 eksklusiewe whiskies om van te proe.

Volgens kenners is hul eksklusiewe whisky-vrystellings een van die aanbiedinge wat WhiskyBrother van ander kleinhandelaars onderskei.

Die whiskies, wat die span uit vate kies, is nêrens anders in die wêreld beskikbaar nie en bied aan plaaslike whisky-liefhebbers unieke whiskies wat andersins nooit gebotteleer sou word nie.

Tans stel WhiskyBrothers gemiddeld 20 enkel-vate elke jaar vry en hy is op koers om sy 100ste vrystellingsmylpaal in die volgende 12 maande te bereik.

Danksy die groot vraag het hulle nou ʼn voltydse handelsmerk-ambassadeur wat gemiddeld vier proegeleenthede per week landwyd aanbied. WhiskyBrother is ook die organiseerders van The Only Whisky Show, ʼn jaarlikse whisky-fees wat in Johannesburg en Kaapstad aangebied word.

Pendlebury glo WhiskyBrother se sukses lê daarin dat hulle nooit hul doelwitte uit die oog verloor nie of vergeet hoekom hulle doen wat hulle doen nie.

“Whisky is waarvoor ons lief is – die wonderlike produkte, die mense wat dit produseer en geniet, en die wonderlike plekke en stories van daardie distilleerderye,” sê Pendlebury

“Hoewel die onderneming oor die afgelope dekade gegroei het, is die geesdrif en liefde steeds die ‘hoekom’ en spoor dit ons span aan om kundigheid en diens van wêreldgehalte te lewer.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris ·

Ek is nogal bly vir die manne se prestasie. Dit is ‘n eer om so titel te verower. Daar is egter ‘n ander kant ook van die sukses verhaal en ek stem heelharig saam met jou Chris du Preez. Die harde weklikheid is dat die struikrower en dief op die loer is om op sy volgende slagoffer toe te slaan. Ek hoop van harte die manne het genoeg versekeringsdekking om hul verlies te dek. Jy kan die geldwaarde terug kry, maar die magtelose woede, ontnugtering en teleurstelling in jou mede mens is onbegryplik. Sterkte in elk geval vir die ondernemimg en geluk met jul prestasie.

Nico ·

Nou word so ‘n ophef whisky gemaak, het die verkeers owerhede al gekyk wat oorsake van motor ongelukke en pad sterftes vandaan, dit is dronk bestuur.

Nommer 7 ·

Die ophef word van die sukses van die besigheid self gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.