Saak teen modelbaas wéér uitgestel

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Die vonnisverrigtinge in die saak teen Dawie de Villiers, die Kempton Parkse modelbaas, is Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg vir die soveelste keer uitgestel.

De Villiers is in Februarie 2017 skuldig bevind aan verkragting, seksuele aanranding, seksuele gereedmaking, bedrog, dat hy kinders aan pornografie blootgestel het en toegang gehad het tot kinderpornografie.

Die vonnisverrigtinge kon egter nie Maandag voortgaan nie aangesien De Villiers verskil het van argumente wat deur adv. Marius van Wyngaardt, sy regsverteenwoordiger, ingedien is.

Van Wyngaardt het aan regter Cassim Moosa gesê daar is aspekte waaroor hy en sy kliënt verskil en dat dit ʼn invloed op die verrigtinge kan hê en selfs daartoe kan lei dat De Villiers ʼn nuwe regsverteenwoordiger aanstel.

Regter Moosa het gesê dit is die laaste keer dat hy die saak uitstel aangesien dit al twee jaar is sedert De Villiers gevonnis is. “Ná vandag sal die saak voortgaan, met of sonder regsverteenwoordiging.” Hy het bygevoeg dat die getuies in die saak afsluiting nodig het.

Die saak is tot 13 Maart uitgestel vir vonnisverrigtinge. De Villiers sal op 28 Maart gevonnis word. Hy is steeds op borgtog.

De Villiers het op 5 Oktober 2015 die eerste keer in die hooggeregshof in Palm Ridge verskyn. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy ʼn 14-jarige meisie in 2011 in Rustenburg gemolesteer het en ʼn 15-jarige meisie van Kempton Park verkrag het.

Nog ʼn aanklag teen De Villiers het verband gehou met ʼn voorval tussen 2006 en 2007 in Alberton toe ʼn volwasse vrou seksueel aangerand is. Hy het ook in 2008 SMS-boodskappe aan ʼn minderjarige gestuur waarin hy eksplisiete seksuele versoeke aan haar rig. Van die 38 aanklagte was 11 vir bedrog en diefstal van meer as R200 000.

Die staat en die verdediging het einde verlede jaar hul betooghoofde ingedien ter voorbereiding van die voorvonnisverrigtinge. De Villiers het einde verlede jaar tydens ʼn hofverskyning gesê hy het geen berou oor sy dade nie aangesien hy onskuldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

ABSOLUTE PSIGOPAAT!!!! So skuldig soos daglig maar hy lieg voort sonder n gewete! MAAR: hoe is dit moontlik dat so n boosheid die regstelsel SO kan manupileer?

wielie ·

Neeeeeee regtig ,,,, julle mors nou geld en tyd!!! 13 jaar na sy eerste ” crime” hang hy nog rond in die hof …… ????????

Daan Erasmus ·

Trek sy borg terug. Hy speel die regstelsel. So gou as sy borg teruggetrek is sal die tydmors ophou.

christa ·

die man moes lankal toe gesluit gewees het. Hy kry elke keer uitstel. Trek sy borgvoorwaardes terug. laat hy solank voorsmakie kry

Wonder maar ·

Indien jy skuldig gevind word kan jy mos nie meer op borg wees nie. Dit maak glad nie sn nie hy is moet mos in aanhouding bly tot vonnisoplegging of hoe.
Hy is wel nog besig met die model wereld

Rina ·

Ek sien hy is nog besig in die model wêreld? Kan nie glo mense maak nog gebruik van so n verrotte siel nie.

Jonny ·

Hoe na 2 jaar se skuldigvinding is hy nog nie gevonnis nie. Hy hardloop nogsteeds sy modelagentskap in Bedfordview. Loop rond in die strate met ‘n vuurwapen aan sy sy, seker bang mense neem reg in eie hande. Sekerlik moet so iets ontneem word sodra hy skuldig bevind word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.