Sakeman en sy gesin uitgemoor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Sakeman van Mpumalanga, sy vrou en twee dogters is Dinsdag koelbloedig deur twee mans in hul huis vermoor.

“Die polisie het ʼn reusesoektog van stapel gestuur nadat Johnson Fakude en sy hele gesin in hul huis in Bosbokrand doodgeskiet is,” het Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, gesê.

Bure het glo omtrent 19:30 geweerskote vanuit Fakude se huis gehoor en kort daarna twee mans oor die erf se muur sien spring. Hulle het in die rigting van die R40 gehardloop en die donker nag in verdwyn.

“Die polisie en mediese personeel is oor die voorval ingelig. Met hul aankoms op die toneel het hulle Fakude (58), sy vrou, Gift (50), en hul twee dogters, Princess (11) en Priscilla (8), dood in die huis aangetref. Al die slagoffers het skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê Mohlala.

Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie en die polisie vra enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom. Lede van die publiek kan die ondersoekbeampte, kol. Dumisani Mbokane, by 082 556 5630 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Die provinsiale polisiekommissaris het die voorval as tragies beskryf en gesê sy hoop die verdagtes word spoedig vasgetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariaan ·

Nee nee nee…om al kinders sommer net so te vermoor….boos…!!! Geen gewete….niks….hoe skokkend tragies….

Samuel ·

Ek vertrou die saak gaan met ywer ondersoek word soos die perlemoen smokkelaars se saak.

Skappie ·

Ai, nou word kinders ook al doodgeskiet. Nee, die doodstraf moet terug kom,. Dit gaan nou net te woes met moorde. En waar kry hierdie mense die gewere?

Swerwer ·

Nou ja hoe ver nog HOED voor jy van jou troontjie afstap. Hoeveel onskuldige mense moet nog met hul lewens boet vir jou en jou kader?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.