Sakeman wou suster se onskuld ‘koop’

Sipho Mapalala (Foto: Sipho Mapalala/Facebook)

Sipho Mapalala, ʼn sakeman van Mpumalanga wat ʼn beampte van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wou omkoop, was veronderstel om Donderdag gevonnis te word, maar sal nou eers volgende maand sy lot hoor.

Mapalala het Januarie vanjaar skuld beken op aanklagte van korrupsie en omkopery nadat hy die betrokke SOE-beampte R50 000 se omkoopgeld aangebied het. In ruil daarvoor moes ’n ondersoek na ’n onreëlmatige Covid-19-kontrak – wat aan sy suster, Gugu Bulunga, toegeken is – gestaak word. Bulunga is een van die direkteure van Mbombela Integrated, wat as diensverskaffer vir ontsmettingsdienste aangewys is.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat Mapalala op 5 April in die Mbombela-handelsmisdaadhof gevonnis sal word.

“Die staat was gereed om Donderdag met die vonnisoplegging voort te gaan, maar die beskuldigde se regsverteenwoordiger het gevra vir meer tyd om die voorvonnisverslag te bestudeer,” sê Nyuswa.

Mapalala se gepoogde omkopery volg op ’n ondersoek wat die SOE na die departement van openbare werke, paaie en vervoer in Mpumalanga uitgevoer het.

“Die SOE se ondersoeke het aan die lig gebring dat die departement ’n diensverskaffer vir plaagbeheerdienste in die 2017-’18-boekjaar aangestel het. Toe ʼn nasionale ramptoestand aangekondig is, het die departement die kontrak verander om ontsmettingsdienste by die kontrak in te sluit. Die ontsmettingsdienste was vir geboue wat besit en bestuur word deur die provinsiale regering in die Ehlanzeni-distrik,” sê Nyuswa.

“Ná die ontsmettingswerk gedoen is, het die diensverskaffer veelvuldige betalings ontvang wat in totaal R4,8 miljoen beloop het. Die eerste betaling van R1,3 miljoen is in Julie 2020 gedoen, gevolg deur verskeie betalings ten bedrae van R3,5 miljoen.”

Volgens die ondersoek is groot bedrae geld van die diensverskaffer na verskeie entiteite en individue se rekeninge oorbetaal.

“Een van die entiteite wat geld ontvang het, het verskeie betalings gedoen, wat die Valke toe op die spoor van ’n Mpumalanga-gesetelde regsfirma en twee werknemers van die departement gesit het. Die regsfirma het eiendom ter waarde van R2,2 miljoen gekoop en dit in die naam van een van die twee departementele amptenare se dogters geregistreer.”

Op 5 Augustus 2021 het die SOE vir Bulunga ondervra oor betalings wat gedoen is aan staatsamptenare en eiendomme wat vir staatsamptenare aangekoop is. Bulunga het die bewerings ontken.

“Na afloop van die ondervraging, het Mapalala ’n SOE-ondersoeker gebel om te verklaar dat hy bereid is om enigiets te doen om die saak teen Bulunga te laat verdwyn.”

Hy is gevolglik in Augustus 2021 in hegtenis geneem na afloop van ʼn ondersoek deur die Valke.

Mapalala het in sy skuldigbevinding erken dat sy optrede onwettige en strafbaar is. Hy het verduidelik dat hy Bulunga wou help om uit die moeilikheid te bly, wat “erge angs” by haar veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.