Sakemanne in hof oor maatskappy

Argieffoto

Twee sakemanne van Emalahleni in Mpumalanga is besig om mekaar die stryd in die hof aan te sê nadat een glo die ander uit sy onderneming gewerk het.

Emlahleni-steenkoolmagnaat Joe Ramesh Singh ontken in die hooggeregshof in Pretoria dat hy dokumente nagemaak het om Ralston Smith uit sy onderneming te dwing.

Bewerings dat hy Smith onregverdig uitgeskop het en versuim het om aan hom ʼn ooreengekome skikkingsbedrag te betaal, staar vir Singh, wat nou die multimiljoenrandse Lahleni Lakes-gholflandgoed besit, in die gesig. Lahleni is ʼn 1 130 ha-ontwikkeling.

Singh het die hofsaak aanhangig gemaak met die hoop dat Smith sy aanbod om te skik, sal aanvaar.

Smith was ʼn direkteur van Finishing Touch, Money Box en Lahleni. In hofstukke voer Smith aan hy het ʼn aansienlike bedrag geld aan die drie maatskappye geleen.

Die geskil handel oor die manier waarop Smith die onderneming verlaat het en of hy wél ingestem het om ʼn betaling van net minder as R15 miljoen daarvoor te aanvaar.

Singh, die applikant, hou vol dat Smith vrywillig bedank het en dat hy hom aangemoedig het om die R14,8 miljoen-betaling te aanvaar vir die geld wat hy aan die maatskappy voorgeskiet het.

Singh, by monde van sy regsverteenwoordiger, adv. Danie van Loggerenberg, ontken enige bewerings van bedrog.

Van Loggerenberg het die afgelope week aangevoer die enigste kwessie wat opgelos moet word, is hóé die geld terugbetaal moet word.

Hy het voorgestel dat die hof Singh en Smith beveel om met onderhandelings te begin oor die betaling van die bedrag, wat R14 809 625,11 beloop.

Van Loggerenberg het gesê ʼn ouditeur het dié bedrag vasgestel.

Die advokaat het aan die hof gesê onderhandelings tussen die twee partye sal die paaiemente en tydperk waaroor dit betaal moet word, bepaal.

Maar Smith, wat homself met die hulp van sy seun en dogter verteenwoordig, voer aan dis onwaar dat hy as direkteur van die drie maatskappye bedank het.

Hy beweer Singh het sy handtekening op verskeie dokumente nagemaak om hom as direkteur van sy eie maatskappye te verwyder.

Hy voer aan Singh het nie net bedrog nie, maar ook meineed gepleeg.

“Hy het al my aandele in Lahleni Lakes en Finishing Touch oorgedra, versuim om my vir my lening te betaal en het met die hulp van sy werknemers verskeie e-posse met aangepaste inligting geskep,” het Smith aangevoer.

Hy voer aan dit is nou sewe jaar later en dat hy nie ʼn enkele sent gekry het van dit wat hy beloof is nie. “Nou word ek gevra om wéér ʼn ooreenkoms met dié man aan te gaan,” het Smith in die hof gesê.

Hy betwis ook die bedrag geld wat hy aan die maatskappye geleen het.

Hy voer aan ʼn voorlopige dokument is opgestel waarin sy regte, titel en belang in sy maatskappye, Lahleni Lakes, Money Box en Finishing Touch uiteengesit word, in ruil vir ʼn maksimum bedrag van R24 miljoen, minus sekere aftrekkings.

Singh het nie die hofverrigtinge bygewoon nie.

Die saak is uitgestel tot 16 September wanneer Regter Ronel Tolmay slotbetoë sal aanhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Met so n van is dit standaard praktyk, wag net, daar gaan n Gupta ook opdyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.