Sama eis antwoorde oor J&J-opvolgdosis

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) eis nou antwoorde van die departement van gesondheid af nadat opvolgdosisse van die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 Dinsdag aan gesondheidswerkers beskikbaar gestel is.

Die departement het vroeër vandeesweek aangekondig dat gesondheidswerkers wat tussen Februarie en Mei ʼn J&J-inenting as deel van die Sisonke-studie ontvang het, die opvolginenting kan kry. Dít sal dan deel van die tweede fase van die studie uitmaak.

Sama meen egter dat die departement eers ʼn aantal onduidelikhede moet opklaar voordat opvolginentings toegedien word.

Volgens dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, wil die vereniging onder andere weet wat die departement se motivering is om die tweede fase van die Sisonke-studie in isolasie uit te voer, en of gesondheidswerkers die reg gegun sal word om self te besluit watter opvolginenting hulle wil ontvang.

“Hoe sal dit hanteer word indien ʼn gesondheidswerker voorheen ʼn slegte reaksie op die J&J-entstof ervaar het, of bloot net gebruik wil maak van ʼn ander opvolginenting?” vra sy.

“Daar is duidelike bewyse dat opvolginentings wat met heteroloë entstowwe, soos die Pfizer-entstof, toegedien is, ʼn bykomende voordeel in terme van ʼn mens se immuunrespons inhou. Daarom moet gesondheidswerkers die geleentheid gegun word om self hieroor te besluit.”

Volgens Coetzee het die Wes-Kaapse departement van gesondheid hom reeds beywer om toegang tot ʼn Pfizer-opvolgdosis vir alle gesondheidsorgwerkers wat nie deel van die Sisonke 2-proef wil wees nie, te kry.

“Sama voel sterk daaroor dat gesondheidswerkers en die breër bevolking se reg om te besluit watter opvolginenting hulle wil kry, verseker moet word.

“Ons het reeds beduidende entstofhuiwerigheid in Suid-Afrika gesien en voel dat enige persepsie dat opvolginentings afgedwing word, die situasie sal vererger en nog meer wantroue sal skep.”

Sama het ʼn beroep op die minister van gesondheid, Joe Phaahla, gedoen om te verseker dat die logistieke en implementeringsreëlings vir dié fase proaktief hanteer word om te verseker dat alle opsies vir opvolgdosisse geredelik aan gesondheidswerkers beskikbaar gestel word.

“Ons vra ook dat Pfizer, waar moontlik, sal help om die vereiste regulatoriese prosesse te fasiliteer,” sê Coetzee.

Ten spyte van talle vrae wat sedert die departement se aankondiging aan die lig gekom het, het Sama die Sisonke-span bedank vir hul inisiatief om die tweede fase van stapel te stuur.

“Ons is verheug oor die feit dat die afname in mense se immuniteit vroegtydig aandag geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.