Samestelling van regering: Só lyk tydlyn

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Die parlement het die reëlings vir die inhuldiging van die nuwe parlement, president en regering in die tydperk ná volgende week se verkiesing aangekondig.

Ná stemdag op 8 Mei het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sewe dae om die uitslag te finaliseer en aan te kondig, hoewel hulle dit gewoonlik binne so drie dae (teen die Saterdagaand ná die verkiesing, in hierdie geval 11 Mei) regkry.

Nadat die OVK die uitslae gefinaliseer en bekragtig het, het die hoofregter, regter Mogoeng Mogoeng, 14 dae voordat hy die parlement die eerste keer moet byeenroep.

Die voorlopige datums daarvoor is Woensdag 22 Mei vir die Nasionale Vergadering en Donderdag 23 Mei vir die Nasionale Raad van Provinsies, hoewel dit kan aanskuif as ʼn probleem met die stemproses en/of die uitslae sou ontstaan.

Tydens die eerste vergadering van die Nasionale Vergadering sal die hoofregter al 400 lede insweer en daarna die verkiesing van die speaker behartig.

Die speaker neem dan sy/haar posisie in en behartig die verkiesing van die adjunkspeaker. Daarna neem die hoofregter weer die voorsitterstoel in en behartig die verkiesing van die president, deur die lede van die Nasionale Vergadering.

Op dieselfde dag, 22 Mei, sal die nege provinsiale wetgewers vergader om die nege provinsiale speakers en die nege provinsiale premiers aan te wys, telkens onder leiding van die provinsie se regter-president.

Die volgende dag, 23 Mei, sal die hoofregter steeds in Kaapstad wees – hierdie keer vir die byeenroep, insweer en samestelling van die Nasionale Raad van Provinsies. Die hoofregter sal die verkiesing van die voorsitter van die raad waarneem.

Op 25 Mei, so is die beplanning, sal die nuwe president amptelik ingehuldig word tydens ʼn plegtigheid by die Loftus Versfeld-rugbystadion in Pretoria. Die nuwe president sal na verwagting in die week daarna sy kabinet aankondig, en ʼn staatsrede in die parlement in Kaapstad lewer in Junie, het die parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Regs! ·

Wonder wanneer skuif hulle die parlement na sy regmatige plek toe? Pollsmoor maksimum sekuriteit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.